Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Hieraan moet Suné haar span herinner

Juis omdat dit vir Suné Luus en haar Protea-vrouekrieketspan belangrik is om die naweek met ’n sege in hul eerste wedstryd teen Indië te begin, sal dit hulle baat om die horlosie so effens terug te draai.

Die Suid-Afrikaners en Indië is Sondag slaags in die eerste van vyf eendagwedstryde Lucknow.

Marizanne Kapp kan met die kolf én bal die gang van ’n wedstryd bepaal. Foto: Getty Images

Hoewel verskeie dinge in die Proteas se guns tel, soos dat hulle onlangs teen Pakistan gespeel het, terwyl dit die Indiërs se eerste internasionale wedstryd is sedert Covid-19 verlede jaar sport tot stilstand geruk het, tree die tuisspan tog as die gunsteling aan.

Besoekende spanne se kolwers sukkel gewoonlik om hul stempel op die subkontinent se kolfblaaie af te druk, waar die bal laag hou en stadig deurskiet.

Hoe belangrik dit is om met ’n oorwinning te begin, kan nie genoeg beklemtoon word nie. ’n Sege in die eerste wedstryd sal Luus, die besoekers se kaptein, en haar spanmaats die selfvertroue gee dat hulle wel die reeks kan wen.

So wanneer Luus haar spanpraatjie hou kort voor die wedstryd begin, kan sy gerus weer verwys na 2020 se T20-Wêreldbeker-toernooi, wat ’n rapsie meer as ’n jaar gelede in Australië begin het.

Dit sal Suné Luus baat om haar spanmaats te herinner aan dit wat hulle ’n rapsie meer as ’n jaar gelede vermag het. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se eerste wedstryd was teen Engeland – die einste Engelse wat dié toernooi tevore gewen en drie keer die naaswenner was. Min mense sou in hul wildste drome kon dink dat die Proteas kan wen.

Maar hulle het. En nie sommer ’n hierjy-oorwinning nie. Suid-Afrika het met ses paaltjies gewen. Dané van Niekerk het 46 lopies en Marizanne Kapp 38 met die kolf aangeteken.

Dit nadat Ayabonga Khaka, Van Niekerk en Kapp tussen hulle sewe van die agt Engelse paaltjies laat kantel het.

Die pessimiste sal jou herinner dat Van Niekerk die Indiese toer weens ’n besering misloop en dat dit boonop ’n vrotsige vergelyking is om Indië en Doer Onder in dieselfde sin te noem.

Feit van die saak is dat Suid-Afrika in spelers soos Kapp, Laura Wolvaardt, Lizelle Lee, Mignon du Preez en Shabnim Ismail bewese wedstrydwenners het.

Dié spelers was almal verlede jaar in Australië en sal onthou hoeveel daardie sege oor die Engelse vir hulle selfvertroue beteken het.

Ook dat hulle daarna amper onkeerbaar was en net-net in die reëngeteisterde halfeindstryd verloor het.

• Indië (uit): Mithali Raj (k), Smriti Mandhana, Jemimah Rodrigues, Punam Raut, Priya Punia, Yastika Bhatia, Harmanpreet Kaur, Dayalan Hemalatha, Deepti Sharma, Sushma Verma, Swetha Verma, Radha Yadav, Rajeshwari Gayakwad, Jhulan Goswami, Mansi Joshi, Poonam Yadav, Challuru Prathyusha, Monica Patel.

Suid-Afrika (uit): Suné Luus (k), Ayabonga Khaka, Shabnim Ismail, Laura Wolvaardt, Trisha Chetty, Sinalo Jafta, Tazmin Brits, Marizanne Kapp, Nondumiso Shangase, Lizelle Lee, Anneke Bosch, Faye Tunnicliffe, Nonkululeko Mlaba, Mignon du Preez, Nadine de Klerk, Lara Goodall, Tumi Sekhukhune.

Begintyd: Sondag 05:20 (SA tyd), regstreeks op SS Variety 2 (kanaal 207 op DStv).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.