Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Hoera vir kwaliteit bo kwantiteit'

Kwaliteit, eerder as kwantiteit, is wat vir Pierre Joubert, die waarnemende uitvoerende hoof van die Titans, belangrik is in Suid-Afrikaanse krieket.

“Daarom glo ek die nuwe formaat wat van aanstaande seisoen gaan geld, is positief. Om minder krieket te speel, sal nie noodwendig ’n slegte ding wees nie,” sê Joubert, ’n eertydse kaptein van die Titans wat die leisels by die unie oorgeneem het by Jacques Faul.

Pierre Joubert / Foto: Gallo Images

“Ek glo beslis met die nuwe strukture sal Suid-Afrikaanse krieket al hoe sterker word,” glo Joubert.

“Ek is iemand wat glo dat minder dikwels beter is. Ek voel net daar is soms té veel gekontrakteerde spelers in Suid-Afrikaanse krieket wat nie altyd speelkans kry nie, maar wel tog betaal moet word. Ek voel jy moet eerder van jou voorste spelers meer betaal en die getalle sny.

“Meeste unies het ’n surplus van spelers wat ook nie gebruik word nie. Vat nou maar net ons hier by die Titans. Sedert die franchise-stelsel in werking getree het (in die vroeë 2000’s), het ons oor die jare nog net soveel as 115 spelers gebruik. Jy sit nou as unie met omtrent 30 spelers op jou boeke wat ’n inkomste moet verdien,” sê hy.

In aanstaande seisoen se reeks gaan die ses franchises in twee groepe van drie elk ingedeel word wat dan tuis en weg teen mekaar gaan speel, waarna die wenners van die groepe mekaar sal uitdaag om die kampioen te word.

Daar gaan ook ’n nuwe reeks oor 40 boulbeurte per span wees, waar 15 unies in twee groepe van agt en sewe gaan deelneem. Daar moet wel nog ’n nuwe borg daarvoor gevind word.

Wat die Titans-groep vir aanstaande seisoen betref, sê Joubert hy is opgewonde en voel dit is een wat sterk aanspraak sal kan maak op trofees.

Volgens hom is veral die boulwerk goed aangevul met verskeie jong spelers.

“Dit is ook nou ’n groep wat as Mandla (Mashimbyi, die nuwe hoofafrigter) s’n beskou kan word. Dit is die spelers wat hy graag wou hê en nadat hy so in die middel van verlede seisoen by Mark (Boucher, nuwe nasionale afrigter) oorgeneem het, kan hy nou sy eie stempel behoorlik afdruk,” sê Joubert.

Hy glo die werklike invloed wat die koronavirus op plaaslike krieket kan hê, sal eers werklik teen Augustus gevoel kan word, wanneer die nuwe seisoen veronderstel is om te begin.

“Ons beplan ’n paar dinge wat ons voorseisoen betref, maar ons sal eers moet sien of ons by ons begrotings kan hou,” sê hy.

Meer oor:  Titans  |  Graeme Smith  |  Ksa  |  Plaaslike Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.