Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Hotklou Beuran se ‘geheime wapen’ nie genoeg

Hy weet hy beskik oor ’n unieke wapen wat van hom ’n aanloklike kandidaat as die Proteas se bykomende snelbouler in hul Wêreldbeker-groep kan maak.

Beuran Hendricks het Woensdagaand in Centurion met spogsyfers van 4/14 teen Pakistan uitgeblink. Foto: Gallo Images

Maar die linkshandige swaaibalbouler Beuran Hendricks weier om sy gedagtes te ver in die toekoms te laat dwaal.

Hendricks, waarskynlik die voorste linkshandige sneller in die land op die oomblik, het Woensdagaand geskitter in die laaste T20-wedstryd teen Pakistan in Centurion. Hy het vier paaltjies platgetrek en slegs 14 lopies in sy vier beurte afgestaan.

Hy weet die feit dat hy ’n hotklou is, gee vir hom ’n voordeel. Tog besef hy dít alleen verseker hom nie van ’n plek in die WB-groep as die vierde sneller naas die voorkeur-trio van Dale Steyn, Lungi Ngidi en Kagiso Rabada nie. Suid-Afrika is steeds op soek na ’n bykomende snelbouler vir hul groep van 15 spelers.

“Dit beteken nie noodwendig ek is ’n aanloklike keuse vir die Wêreldbeker-groep nie. Ek beskik oor ’n unieke vaardigheid in enige boulaanval, maar dit is steeds nodig om goeie vertonings te lewer,” het Hendricks Woensdagaand gesê.

“Dit gaan meer oor my vertonings en om goed te speel oor ’n lang tydperk.

“Op die oomblik benader ek dinge een wedstryd op ’n slag. Ek het sekere vaardighede wat ek probeer uitstal wanneer ek ’n kans kry.”

Daar is ook nog aspekte van sy spel wat skaafwerk nodig het.

“Ek wil die bal gereeld teen vaart swaai in die openingsbeurte. Ek wil ook verseker dat ek betroubaar is in die laaste boulbeurte.”

Hendricks sê sy syfers van 4/14 klink “magies”.

“ ’n Mens werk baie hard om sulke vertonings te lewer,” sê hy.

Dit is juis harde werk en voorbereiding wat hom gehelp het om sy skitterende spelpeil in al drie formate op die oomblik te handhaaf, sê hy.

Hendricks (28) het sy Protea-buiging reeds in 2014 in ’n T20-wedstryd gemaak en daar is groot dinge van dié bouler verwag, veral omdat hy linkshandig is en die bal kon swaai. Beserings het sy ontwikkeling egter gekniehalter.

“Deur my loopbaan is ek deur beserings lamgelê. Ek moes na my fiksheidsvlakke kyk en dit verbeter, sodat ek so lank as moontlik op die speelveld kon bly.”

Hy sê die werk wat hy saam met die kondisioneringsafrigters gedoen het, eers by die Cape Cobras en nou by die Lions, het hom gehelp om nou beseringsvry te bly en goeie vertonings te lewer.

Intussen sê David Miller, die Proteas se instaan-kaptein, die jong spelers in die groep sal baie selfvertroue uit hul reekssege teen die wêreld se voorste T20-span put, al het hulle die derde wedstryd verloor.

Meer oor:  Pakistan  |  Krieket  |  Beuran Hendricks  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.