Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Sy bloed was aan die pomp, sê Nortjé
Anrich Nortjé Sondag in aksie in die tweede T20-wedstryd teen Australië in Port Elizabeth. Foto: Reuters

In die laaste minute voor die aanvang van sy eerste internasionale T20-wedstryd in Suid-Afrika, wou Anrich Nortjé net op die veld kom.

“Ek was reg om deur ’n muur te hardloop,” het die voorslagbouler Sondag ná sy hoogs suksesvolle T20-vertoning op sy tuisveld in Port Elizabeth gesê.

“Gelukkig het ons eerste gekolf, so ek kon gaan sit en ontspan. Dit kry nogal die bloed aan die pomp (voor jou tuisskare), maar sodra jy daarbuite kom en dis tyd om te doen wat jy moet doen, begin jy ontspan en fokus op wat moet gebeur.”

Aan fokus het die 26-jarige Nortjé duidelik Sondag geen tekort gehad nie. Hy het wel ’n vier aan die begin van albei sy eerste boulbeurte afgestaan, maar die lopiekraan toegedraai toe dit die meeste saakgemaak het: in ’n laaste boulbeurt wat Suid-Afrika net vier lopies gekos het.

Dit is iets wat ek beslis nog lank sal onthou en dit was spesiaal om dit op my tuisveld te kon doen.
Anrich Nortjé

David Warner-hulle moes 17 lopies van dié beurt kry om te wen. Hulle het nie eens naby daaraan gekom nie.

Met dié vertoning het Nortjé die keurders stof tot nadenke gegee – nie net vir die beslissende derde T20-wedstryd Woensdag op Nuweland nie, maar ook vir die komende Wêreldbeker-toernooi.

“Dit is iets wat ek beslis nog lank sal onthou en dit was spesiaal om dit op my tuisveld te kon doen,” sê Nortjé oor daardie laaste boulbeurt en oorwinning in sy eerste wedstryd teen Australië.

Nortjé sê hulle het aanvanklik gedink hul totaal van 158/5 was dalk net ’n raps te min op St. Georgepark.

Temba Bavuma het puik gevaar in die T20-reeks teen Engeland. Foto: Gallo Images

“Namate die wedstryd gevorder het, het ons gesien dit is nie so maklik om net houe te speel en grenshoue te slaan nie.

“Ons het ná die tyd besef dit was nogal nie so ’n slegte telling nie.”

Nortjé was verstaanbaar genoeg in sy noppies om uiteindelik terug op die veld te wees.

Hy het ’n heupbesering opgedoen in die laaste toets teen Engeland, terwyl reën sy terugkeer vir die Warriors teen die Knights in Oos-Londen gepootjie het.

“Dit het gevoel of ek vir ’n lang tyd nie gespeel het nie en dit was lekker om weer daarbuite te wees. Ek voel sterk.”

Die Proteas hoop intussen Temba Bavuma is ook weer gereed en oorgehaal vir môre se wedstryd.

Dit gaan ook interessant wees om te sien of Dale Steyn gaan terugkeer, met Nortjé wat met welslae in Port Elizabeth in sy plek gespeel het. 


Meer oor:  Anrich Nortjé  |  Australie  |  Port Elizabeth  |  Eendagreeks  |  Snelbouler  |  Krieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.