Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Hudson begin weer ’n beurt in SA krieket

Die voormalige Proteas-aanvangskolwer Andrew Hudson is een van Krieket Suid-Afrika (KSA) se sewe nuwe onafhanklike direkteure.

Maar ’n voormalige KSA-president, Norman Arendse, se aanstelling het die wind van voor gekry nadat lede van die lederaad hul kommer oor hom uitgespreek het.

Andrew Hudson is aangestel as ’n onafhanklike direkteur van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

KSA se algemene vergadering het Saterdag vyf nie-onafhanklike direkteure, ’n president en adjunk-president gekies.

’n Onafhanklike benoemingspaneel, onder leiding van Muhammad Seedat, moes die agt onafhanklike direkteure aanstel.

Rihan Richards en Donovan May is eenparig verkies as onderskeidelik die president en adjunk-president van die lederaad.

Die vyf nie-onafhanklike direkteure, wat bestaan uit provinsiale presidente, is Daniel Govender (KZN), John Mogodi (Limpopo), Craig Nel (Mpumalanga), Tebogo Siko (Noordelikes) en Simphiwe Ndzundzu (Grens).

Saam met Hudson is Steven Budlender, Dugmore Lushaba, Lawson Naidoo, Andisa Ntsubane, Mark Rayner en Muditambi Ravele die sewe onafhanklike direkteure.

Die paneel moes agt direkteure aanstel, maar lede van die lederaad was bekommerd oor Arendse.

Seedat het gesê sy paneel sal dié aanstelling heroorweeg en teen Maandag ’n aankondiging maak.

Die finale besluit oor Arendse berus egter by die benoemingspaneel.

Richards het ná die vergadering op ’n nuuskonferensie gesê daar was verskeie besware teen Arendse se aanstelling.

Vir Norman Arendse was daar nie Saterdag goeie nuus nie. Foto: Gallo Images

“Hy was die hoof- nie-onafhanklike direkteur toe Thabang Moroe as uitvoerende hoof aangestel is. Ons het ook nie saamgestem met sommige van sy opmerkings toe hy nie betrokke was by KSA nie,” sê Richards.

Richards het toegegee dat die finale besluit by die benoemingspaneel berus.

Met die verkiesing van die nuwe raad, wat bestaan uit die agt onafhanklike en vyf nie-onafhanklike direkteure, KSA se uitvoerende en finansiële hoof, is ’n einde aan die termyn van die tussentydse raad gebring.

Die eerste taak van die nuwe raad is om ’n voorsitter aan te wys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.