Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Hy kyk net, toe moet hy speel!

Die laaste ding wat William Wentzel hom kon indink toe hy gistermiddag saam met twee vriende op SuperSportpark in Centurion kom krieket kyk het, was dat hy vir die Lions sou speel.

Tog het ’n ongelooflike sameloop van omstandighede – wat omtrent in Ripley se boek van onwaarskynlikhede tuishoort – veroorsaak dat dié 20-jarige student aan die Sport School of Excellence se krieketakademie in Pretoria as Lion-veldwerker op die veld verskyn het.

William Wentzel, ’n Titans-ondersteuner wat gister vir die Lions veldwerk gedoen het.

In die opwarmingsoefening voor die wedstryd in die eendagreeks tussen die Titans en die Lions het ’n besering Eddie Leie, ’n bybreekbouler van die besoekers, buite aksie gestel.

Dit het ’n probleem veroorsaak, want skielik kon die Lions nie aan hul kwota van drie etniese swart spelers voldoen nie.

’n Paar oproepe na Krieket Suid-Afrika (KSA) is gemaak om ’n oplossing te vind.

Intussen het Albie Morkel, die Titans se kaptein, ingestem dit sal aanvaarbaar wees dat die Lions net met twee etniese swart spelers speel.

Weens Leie se besering moes Rassie van der Dussen, wat ook met ’n besering sukkel, speel.

Ná skaars vyf boulbeurte is die Lions se aanvangsbouler, Carmi le Roux, se dyspier beseer en hy het van die veld gehinkepink.

Geoffrey Toyana, Lions-afrigter, bedank Wentzel vir sy hulp. Foto’s: Lee Warren, Gallo

Die Lions was met die hande in die hare en Geoffrey Toyana, die afrigter, het selfs ’n kort rukkie gaan veldwerk doen.

Dit is waar Wentzel in die prentjie kom.

“Ek en my pelle het rustig in die paviljoen gesit en krieket kyk toe die Titans-afrigter, Rob Walter, vra wie van ons die beste veldwerker is.

“Ek het die naaste aan die kleedkamer gesit en is nadergetrek. Voordat ek my kon kry, was ek uit my plakkies en kortbroek en in Eddie Leie se klere om veldwerk te doen.

Wow, ek was nogal kwaai op my senuwees, want ek moes hier naby die grens veldwerk doen. Ek kon hoor hoe skreeu my vriende vir my,” sê Wentzel, ’n Titans-ondersteuner.

“Ek het net gedink ek moet nie ’n vangskoot verbrou nie, want die Lions sou dink ek het dit met opset gedoen.

“Die Lions was ongelooflik. Hulle het hulle almal op die veld aan my kom voorstel en my op my gemak laat voel.

“Dit het onwerklik gevoel om skielik op die veld te wees as deel van die aksie wat jy enkele minute tevore nog rustig uit die paviljoen sit en dophou het,” sê Wentzel, wat vir die Tshwane-Universiteit van Tegnologie se tweede krieketspan speel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.