Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
IKR vra dat KSA met regering saamwerk

Die Internasionale Krieketraad (IKR) het sy swye oor die situasie by Krieket Suid-Afrika (KSA) verbreek nadat Nathi Mthethwa, minister van sport, Sondag sy voornemens uitgestippel het om amptelik by KSA se sake in te gryp.

Temba Bavuma, die Proteas se eendag- en T20-kaptein. Foto: Gallo Images

Regeringsinmenging is strydig met die IKR se grondwet, maar dié beheerliggaam het by navraag aan Netwerk24 gesê hy “moedig sy lede aan om met regerings saam te werk om kwessies op te los”.

“Nie alle regeringsinmenging is problematies nie en vir die IKR om betrokke te raak, moet daar ’n formele klag wees van ons lede dat dit ongevraagde inmenging is. Sou dít gebeur, sal ons die situasie evalueer gegrond op feite wat verskaf word en ’n gepaste plan van aksie formuleer,” sê die IKR.

Mthethwa het Sondag aangekondig hy gaan volgens art. 13(5) van die Nasionale Wet op Sport en Ontspanning by KSA ingryp. Hy tree in omdat KSA se lederaad nie die beheerliggaam se grondwet wil wysig om voortaan te sorg vir ’n meer onafhanklike raad nie. Dít nadat die lederaad vroeër wel ingestem het om die grondwet sodanig te verander.

Dean Elgar, die Suid-Afrikaanse toetskaptein. Foto: Gallo Images

Selfs die nasionale kapteins, Temba Bavuma, Dean Elgar en Dané van Niekerk, het Maandagaand in ’n verklaring deur die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging (Saca) ’n beroep op die lederaad gedoen om die probleem, wat ’n dooiepunt bereik het, op te los.

Die land se spelers sê in dié verklaring hulle besef die minister het baie geduld aan die dag gelê in sy handelinge met die lederaad.

“Wat by die spesiale algemene vergadering van 17 April gebeur het (toe die lederaad ’n U-draai gemaak het en in ’n geheime stemming téén die wysiging van die grondwet gestem het), was in kwader trou en oneerbiedig teenoor (Mthethwa se) kantoor, alle krieketspelers en die publiek.”

Hulle wys daarop dat sou Mthethwa sy magte kragtens art. 13(5) van die Sportwet uitoefen, die Proteas moontlik nie meer as ’n nasionale span erken sal word nie.

Dit sal uitsaairegte en ooreenkomste vir borgskappe negatief beïnvloed.

“Die lederaad het strydig opgetree met die wense van die minister, die Nicholson-aanbevelings (vir ’n meer onafhanklike raad) die King IV-bestuursbeginsels en internasionale bestepraktyk – hoe kan dit in die beste belang van ons spel wees?

Dané van Niekerk, die Protea-vroue se kaptein. Foto: Gallo Images

“As spelers wil ons graag direk met ons borge, soos SAB, Betway, Momentum en KFC, praat. Ons vra om verskoning vir die aksies van ons administrateurs, wat die toewyding wat julle vir die sport het, ondermyn en verraai.

“En van die belangrikste belanghebbende in ons spel – die publiek – vra ons jul voortgesette ondersteuning van krieket. Dit is die wonderlikste spel en ons is ongelooflik trots daarop om julle op die veld te verteenwoordig,” lui die spelers se verklaring.

Mthethwa het die lederaad tot Dinsdag 17:00 gegee om redes te verskaf oor waarom hy nie sy magte volgens die Sportwet moet bekragtig nie. Volgens dié wet kan hy befondsing terugtrek en KSA nie meer as ’n amptelike nasionale beheerliggaam erken nie.

• Lees meer oor die KSA-krisis: Dit is wat jy moet weet van chaos by KSA

Meer oor:  Fundudzi-Forensiese Verslag  |  Nathi Mthethwa  |  Ksa  |  Ikr  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.