Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Indië dryf Proteas tot trane’

’n Dag wat só goed vir die Proteas begin het, het nogmaals in frustrasie geëindig.

Rohit Sharma vier sy derde honderdtal van die toetsreeks teen Suid-Afrika. Foto: AP

Indië het Saterdag die eerste dag van die derde kriekettoets in Ranchi op 224/3 afgesluit om beheer van die derde toets te neem. Swak lig het spel belemmer ’n halfuur ná die teepouse en daar is slegs 58 boulbeurte in die dag afgestuur.

Indië het reeds die eerste twee toetse van die reeks op ’n drafstap gewen.

Indië het vir die derde opeenvolgende toets eerste gekolf nadat Virat Kohli, sy kaptein, die loot gewen het. Faf du Plessis, die Proteas se kaptein, was so gefrustreerd met sy onvermoë om die loot te wen, dat hy Temba Bavuma, onderkaptein, gevra het om te gaan loot. Dit het ook nie gehelp nie.

Die Proteas se boulvertoning in die eerste sessie het wel tot ’n verbetering gelei en veral Kagiso Rabada (2/54) het sy reputasie as een van die beste boulers in wêreldkrieket gestand gedoen. Die Johannesburgse blits het die kolf male sonder tal buite die wegpen geklop en hy het verdien om die paaltjies van Mayank Agarwal en Chetishwar Pujara pla te trek.

Sake het nog beter geraak toe Anrich Nortjé sy eerste toetspaaltjie geneem het en wat ’n paaltjie was dit nie! Hy het Kohli been voor paaltjie betrap en op 39/3 was die Proteas in die saal.

Dit was egter die einde van die goeie nuus en Rohit Sharma (117* van 164 balle; 14x4, 4x6) en Ajinkya Rahane (83* van 135 b; 11x4, 1x6) het daarna beheer van sake geneem.

Die twee regshandige kolwers het ’n onoorwonne vennootskap van 185 lopies in net 42.3 boulbeurte om die vierde paaltjie gedeel om die tuisspan heeltemal in beheer van sake te plaas. Hulle het veral die wegbreekballe van Dane Piedt met minagting hanteer en die Kaapse draaibouler het 0/43 in sy ses beurte afgestaan.

Nie een van die boulers, nie eens Rabada, kon hond haaraf maak ná middagete nie en dit lyk al hoe meer of dié toets dieselfde patroon as die eerste twee toetse gaan volg. Indië slaan ’n reusetelling in die eerste beurt en dan beklink hy ’n maklike oorwinning.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Indië  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.