’n Rekordvennootskap om die sewende paaltjie het Indië Sondag in die stryd gehou op die derde dag van die vierde en laaste toets in die reeks teen Australië.

Shardul Thakur van Indië het Sondag die eerste toets-50-tal van sy loopbaan teen Australië behaal. Foto: Getty Images
Shardul Thakur en Washington Sundar het albei by die Gabba in Brisbane 50-talle aangeteken om eindelik ’n vennootskap van 123 lopies te deel.
Dié duo het hiermee die rekord van Kapil Dev en Manoj Prabhakar oortref, wat in 1991 ’n vennootskap van 58 lopies gedeel het.
Thakur het sy eerste 50-tal in toetskrieket aangeteken, terwyl die groentjie en debutant Shardul dit met sy eie 50-tal opgevolg het.
Dié twee het by mekaar voor die penne aangesluit met Indië ietwat in die moeilikheid op 186/6 met Australië wat 369 in hul eerste kolfbeurt opgestapel het.
Nietemin was daar nie veel tekens van senuwees wat knaag nie met die tweetal wat met aggressie sowel as omsigtigheid gekolf het en byna elke swak aflewering gestraf het.
Sundar en Shardul moes boonop sewe boulbeurte met die nuwe bal aandurf, maar dit het hulle min gepla.
Pat Cummins het eindelik ’n einde tot hul rekordvennootskap gebring toe hy vir Thakur sy slagoffer gemaak het met laasgenoemde se telling op 67.
Sundar is vir 62 lopies terug na die kleedkamer gestuur toe hy die hande van Cameron Green in die gangetjie gevind het vanaf ’n aflewering deur Mitchell Starc.
Indië se laaste paaltjie het getuimel met hul telling op 336 met Josh Hazlewood wat die groot uitblinker met die bal was met sy syfers van 5/57.
Teen uitskeityd het Australië op 21/0 gestaan met hul voorsprong van 54 lopies.
David Warner was vir 20 van dié lopies verantwoordelik en sal Maandag se spel hervat met sy telling op 20 van net 22 aflewerings. Marcus Harris sal saam met hom voor die penne wees. – Sportredaksie