Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Indiese blitstoer in SA nog nie van baan

’n Vinnige besoek deur die Indiese krieketspan aan die einde van Augustus, wat Krieket Suid-Afrika (KSA) tussen R160 miljoen en R180 miljoen in die sak kan bring, is steeds ’n groot moontlikheid.

Virat Kohli, die Indiese krieketkaptein. Foto: Getty Images

’n Topamptenaar van die Indiese Krieketbeheerraad (BCCI) het Vrydag oor gebeurlikheidsplanne vir hul toer in Desember na Australië gepraat, maar het niks gesê oor die moontlike drie T20-wedstryde wat hulle voor dán in Suid-Afrika kan speel nie.

Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, het by navraag gesê dié moontlike toer is nog nie van die baan nie. Graeme Smith, KSA se nuwe direkteur van krieket, het ’n groot rol gespeel in onderhandelinge met Sourav Ganguly, die BCCI se president, oor die moontlikheid van só ’n T20-blitstoer.

Die Covid-19-pandemie het nog nie ’n onmiddellike groot geldelike impak op KSA gehad nie, want geen tuisreekse is al daardeur geraak nie. Indië se moontlike toer kan die eerste tuisreeks van die nuwe seisoen wees.

Die Proteas se toer na Sri Lanka, wat in Junie sou plaasvind, het wel reeds gesneuwel. Daar is nog nie duidelikheid oor of die toer na die Karibiese Eilande in Julie en Augustus gaan voortgaan nie.

KSA verwag wel dat hy volgende seisoen die impak gaan voel wat die Covid-19-pandemie wêreldwyd op ekonomieë het. Krieket Australië (KA) het reeds die impak van die virus aan sy sak gevoel. Altesaam 80% van sy personeel is deur groot salarisverminderinge geraak en verdien slegs 20% van hul salaris, terwyl die res van die personeel 80% van hul salaris kry.

Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket. Foto: Getty Images

ESPNcricinfo.com berig die Australiese Krieketspelersvereniging bevraagteken wel hoe erg KA se geldsake deur die pandemie geraak is en sê krieket staan betreklik sterk in vergelyking met wintersporte, maar gee toe dis belangrik dat planne in plek is vir die toere later vanjaar.

Die BCCI het intussen aangedui hy sal bereid wees dat die Indiese kaptein, Virat Kohli, en sy spanmaats vir twee weke in Australië in kwarantyn deurbring as dit sou help dat hul beplande toer in Desember en Januarie kan voortgaan, berig Reuters.

KA het die geraamde 300 miljoen Australiese dollar wat dié toer hulle in die sak kan bring dringend nodig.

Arun Dhumal, tesourier van die BCCI, het aan The Sydney Morning Herald gesê die spelers sal geen ander keuse hê as om hulself in isolasie te plaas nie.

Indië is geskeduleer om vier toetse en drie eendagwedstryde Doer Onder te gaan speel.

Dhumal is egter skepties oor die T20-Wêreldbeker (WB)-toernooi (T20-WB), wat vir Oktober en November in Australië geskeduleer is.

“Sou jy ná só lank sonder oefening onmiddellik in ’n WB wou speel? Dit is ’n besluit wat elke raad sal moet neem. Dit blyk moeilik te wees,” sê Dhumal.

KA en die BCCI het die moontlikheid van ’n vyfde toets in Desember/Januarie bespreek, maar Dhumal sê bykomende witbalwedstryde sal geldelik meer sin maak.

“Die rade sal moet besluit of hulle ’n ekstra toets, of dalk twee bykomende eendag- of twee T20’s, sal wil speel. Gegewe die verlies aan inkomste vanweë inperking, sal geld belangrik wees en inkomste sal liewer deur eendag- of T20-wedstryde as ’n toets gegenereer word.”

Hy sê ook daar is nog nie op ’n nuwe skedule vir die uitgestelde Indiese Premierliga (IPL) besluit nie.

Meer oor:  Krieket  |  Indië  |  Matthew Proudfoot  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.