Indië het Engeland met ’n beurt en 25 lopies binne drie dae in die vierde en laaste kriekettoets Saterdag in Ahmedabad afgeransel om die toetsreeks met 3-1 te wen.
Die twee draaiers Axar Patel en Ravichandran Ashwin het elk vyf paaltjies in die toerspan se tweede beurt laat kantel.

Virat Kohli, Indië se kaptein, skater hier ná die laaste toets teen Engeland wat sy span Saterdag binne drie dae gewen het om die reeks met 3-1 te beklink. By hom is Cheteshwar Pujara en Ajinkya Rahane.Foto: Getty Images
Dit was Indië se 13de agtereenvolgende reeksoorwinning by die huis. Hy het vir hom as die voorste span ’n plek in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap bespreek.
Nieu-Seeland wag in dié eindstryd in Junie in Engeland op Indië.
Indië het sy eerste beurt Saterdag op 294/7 voortgesit in antwoord op Engeland se 205.
Die 21-jarige Washington Sundar, wat in slegs sy vierde toets gespeel het, was onoorwonne op 96 toe die tuisspan vir 365, ’n voorsprong van 160, uitgehaal is. Dit sou sy eerste toetshonderdtal gewees het.
Patel (5/48) en Ashwin (5/47) het Engeland toe vir net 135 lopies in sy tweede beurt uitgeknikker.
Ashwin was die Speler van die Reeks vir sy 32 paaltjies.
Patel het in sy eerste toetsreeks in net drie toetse 27 laat kantel.
Engeland se aanvangskolwers het volgens espncricinfo.com die drie boulbeurte voor die middagete oorleef, maar die toerspan was daarna op 65/6 gou aan die steier.
Dan Lawrence (50) het Indië met sy vyftigtal ’n rukkie langer op die veld gehou.
Die spanne is nou in ’n T20-reeks van vyf wedstryde betrokke, waarvan die eerste Vrydag gespeel word.
Hulle speel daarna ook in drie eendagwedstryde.