Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Indiese vroue verhang bordjies

’n Swak vertoning met die kolf het die Protea-vrouekrieketspan Dinsdag in die tweede eendagwedstryd teen Indië duur te staan gekom.

Indië het op ’n drafstap met nege paaltjies in Lucknow gewen. Met die oorwinning het die tuisspan die telling 1-elk in die reeks van vyf wedstryde gemaak.

Die Protea-vrouekrieketspan se vertoning Dinsdag met die kolf sal dié span se kaptein, Suné Luus, stof tot nadenke gee. Foto: Gallo Images

Die Proteas het eerste gekolf, maar was almal terug in die paviljoen vir slegs 157 lopies in 41 boulbeurte. Die tuisspan (160/1) het korte mette van die teiken gemaak en die wenlopies reeds in die 29ste boulbeurt aangeteken.

Suid-Afrika was reeds vroeg in sy kolfbeurt in die knyp, met albei sy aanvangskolwers, Laura Wolvaardt (9, 13 balle) en Lizelle Lee (4, 6 b), wat met die kolf misluk het.

Dit het die besoekers op 20/2 in die sesde boulbeurt gelaat, maar die spanbestuur sou toe nog nie paniekerig gewees het nie gegewe die diepte in die Proteas se kolflys.

Suné Luus (36, 57 b) en Lara Goodall (49, 77 b) het inderdaad toe ook 60 lopies om die derde paaltjie aangeteken, voordat Luus die paadjie terug paviljoen toe moes aanpak.

Luus is geklop deur ’n bal wat weggeswaai het en is agter die paaltjies deur Sushma Verma van Mansi Joshi se boulwerk af uitgevang.

Daarna het die kaartehuis egter vinnig inmekaar getuimel. Spelers soos Mignon du Preez (11, 20 b), Marizanne Kapp (10, 16 b) en Trisha Chetty (12, 25 b) kon nie een ’n noemenswaardige bydrae lewer nie. Boonop is Chetty met haar telling op agt ’n lewe gegun toe sy uitgevang is van ’n foutbal deur Jhulan Goswami.

Van Goswami gepraat, dié naatbouler het die beste vir die tuisspan met die bal gevaar en met syfers van 4/42 in tien boulbeurte geëindig.

Indië se draaier Rajeshwari Gayakwad het self die Protea-kolwers ’n paar probleme besorg en 3/37 in nege boulbeurte geneem.

Reeds vroeg in die Indiërs se kolfbeurt was dit duidelik dat hulle die Protea-boulers gaan vasvat.

Smriti Mandhana het die Protea-boulers ’n paar probleme besorg. Foto: Gallo Images

So byvoorbeeld het die tuisspan se aanvangskolwer Smriti Mandhana in die eerste boulbeurt twee agtereenvolgende sesse van Shabnim Ismail se boulwerk gemoker.

Ismail het wel kort daarna ’n deurbraak vir die Proteas bewerkstellig toe sy in die vyfde boulbeurt van Jemimah Rodrigues (9, 20 b) ontslae geraak het. Indië was toe op 22/1.

Maar Indië het allermins kop verloor met Rodrigues se vertrek. Mandhana (80*, 64 b) en Punam Raut (62*, 89 b) het nie weer teruggekyk nie en hul span oor die eindstreep geneem.

Veral Mandhana het op haar gemak teen die Protea-boulers gelyk en min ontsag vir hulle getoon.

Waar Suid-Afrika se veldwerk in die eerste wedstryd oor die algemeen van hoogstaande gehalte was, was daar Dinsdag ’n paar blapse. Een daarvan was ’n vangskoot digby die grens wat Nadine de Klerk nie kon benut nie.

Intussen sal Tazmin Brits na Suid-Afrika teruggekeer nadat haar pa oorlede is. Haar Protea-spanmaats het Dinsdag swart armbande gedra in solidariteit met haar verlies.

Daar sal nie ’n plaasvervanger na Indië ontbied word nie.

TELKAART

• Die derde wedstryd word Vrydag, ook in Lucknow, beslis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.