Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
IPL begin in VAE sonder glans, atmosfeer
Pat Cummins, wat hier ’n kartets in ’n onlangse eendagwedstryd vir Australië teen Engeland afstuur, sal die Kolkata Knight Riders se groot troefkaart wees. Foto: Getty Images

Ná ’n lang vertraging weens die Covid-19-pandemie sal die Indiese Premierliga (IPL) Saterdag sonder sy gebruiklike glans en swierigheid begin.

Dié toernooi, wat gebruiklik in April en Mei beslis word, moes soos ander groot sportbyeenkomste weens die koronaviruspandemie uitgestel word.

Soos die koronavirusgevalle in Indië bly toeneem het, is besluit om dié T20-liga in drie bioborrels in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) aan te bied. Geen toeskouers sal vir eers toegelaat word nie.

Die openingswedstryd, tussen die Mumbai Indians (die verdedigende kampioenspan) en Chennai Super Kings (CSK), sal ook nie deur ’n kleurryke openingseremonie voorafgegaan word nie.

Hoewel wedstryde in leë stadions geen atmosfeer sal hê nie, verwag Sourav Ganguly, president van die Indiese Krieketbeheerraad (BCCI), dat daar vanjaar ’n groot toename in TV-kykertalle sal wees.

“Hulle (die uitsaaiers) verwag die 13de weergawe van die IPL sal vanjaar die meeste TV-kykers tot nog toe lok, want die veronderstelling is as mense nie wedstryde kan bywoon nie, gaan hulle dit op die kassie kyk. Jy kan in alles iets positief vind,” sê Ganguly.

Indië se krieketbaas is wel hoopvol dat daar in die loop van die toernooi, wat ná 53 dae op 10 November eindig, beperkte hoeveelhede toeskouers by die wedstryde toegelaat sal word.

“Met die gevare van koronavirusinfeksies wil jy nie mense té na aan mekaar hê nie, maar as jy 30% van ’n stadion se kapasiteit benut, sal jy effektief sosiale distansiëring kan handhaaf,” sê Indië se voormalige kaptein.

Volgens hom sal dié toeskouers eers vooraf siftingtoetse moet ondergaan voordat hulle in stadions toegelaat sal word.

AB de Villiers se onortodokse houespel behoort vanjaar weer een van die IPL se hoogtepunte te wees. Foto: Getty Images

Om die hoeveelheid mense by wedstryde te beperk, het die organiseerders ook besluit dat daar vanjaar geen rasieleiers langs die velde sal wees nie.

Om spelers teen moontlike infeksies te beskerm, sal hulle onder streng toesig, onderhewig aan Covid-19-protokolle, tussen stadions en hul hotelle vervoer word.

Meer as 20 000 Covid-19-toetse sal tydens die toernooi op spelers, afrigters en beamptes gedoen word.

Die Covid-19-spook het in die aanloop tot die toernooi reeds toegeslaan toe twee spelers van CSK en verskeie bestuurslede positief vir die virus getoets is.

Vrese vir die siekte en ’n onwilligheid om vir lank in ’n bioborrel te bly, het ook daartoe gelei dat verskeie spelers hulle aan vanjaar se toernooi onttrek het.

Wanneer spel Saterdag begin, sal die fokus egter op die aksie binne die grenstoue wees en een speler op wie die kollig helder gaan skyn, is die Australiese snelbouler Pat Cummins.

Hy is die oorsese speler wat die grootste bod op hom verenig het in die spelerloting. Die Kolkata Knight Riders het $2,17 miljoen vir sy dienste betaal.

Oudergewoonte sal Indiese sterre soos Virat Kohli en Mahendra Singh Dhoni, asook oorsese helde soos AB de Villiers (Suid-Afrika) en Andre Russell (Windies) se vertonings in die toernooi fyn dopgehou word.

• Tien van De Villiers (Royal Challengers Bangalore) se landgenote sal ook in die VAE hul slag wys. Hulle is Chris Morris en Dale Steyn (ook RCB); Kagiso Rabada en Anrich Nortjé (Delhi Capitals); Faf du Plessis, Lungi Ngidi en Imran Tahir (CSK); Quinton de Kock (Mumbai Indians), David Miller (Rajasthan Royals) en Hardus Viljoen (Kings XI Punjab).

Die naweek se program: Saterdag: 16:00: Mumbai Indians t. CSK op SS Grandstand (201) en SS Krieket (212). Sondag: 16:00: Delhi Capitals t. Kings XI Punjab op SS Krieket.

Meer oor:  Koronavirus  |  T20  |  Covid-19  |  Ipl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.