Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
IPL se borgdrama ‘net ’n spoedhobbel’

Indië se krieketbaas, Sourav Ganguly, sê die Indiese Premierliga (IPL) se besluit om ’n aanloklike kontrak met sy hoofborg, die Chinese tegnologiemaatskappy Vivo, van die hand te wys is net ’n ligte spoedhobbel.

Sourav Ganguly Foto: Getty Images

Die IPL het verlede week sy ooreenkoms beëindig met Vivo, wat in 2017 ’n kontrak van vyf jaar ter waarde van meer as $330 miljoen met krieket se rykste toernooi gesluit het.

Ná ’n skermutseling in Junie op die grens tussen Indië en China, waarin 20 Indiese soldate dood is, het verhoudings tussen dié lande vertroebel en is die borgskap beëindig.

“Ek sal dit nie ’n finansiële krisis noem nie. Dit is eerder ’n spoedhobbel,” sê Ganguly, hoof van die Indiese Krieketraad (BCCI).

“Die BCCI is sterk gevestig en die spelers, die spel en die administrateurs het dit ook in die verlede baie sterk gemaak. Die BCCI sal enige terugslag kan hanteer,” het hy op ’n aanlyn konferensie met die Press Trust of India gesê.

“Jy hou jou opsies oop. Dit is soos ’n Plan A en ’n Plan B.”

Die IPL-toernooi van 2020 is veronderstel om aanstaande maand in die Verenigde Arabiese Emirate te begin.

Vivo sê die besluit het van albei kante af gekom.

Daar is ’n groeiende gevoel in Indië dat Chinese firmas en produkte geboikot moet word ná die aanval op 15 Junie waarin die Indiese soldate dood is.

Die Indiese regering het reeds duisende Chinese slimfoon-toepassings verbied, insluitende die gewilde videoplatform TikTok, en het ook stappe gedoen om handel met China in te perk.

Die IPL en BCCI het belange by maatskappye soos Paytm, Swiggy, Dream11 en Byju, wat almal Chinese beleggers het.

Volgens verslae was die BCCI in gesprek met Indiese maatskappye oor borgskappe vir vanjaar se reeks. Dit sal egter na verwagting minder werd wees as die $60 miljoen wat van Vivo ontvang sou word.

Elk van die agt IPL-spanne kan ongeveer $4 miljoen van hul borgskapgeld verloor, het ’n spanbeampte wat verkies om anoniem te bly Donderdag gesê.

Die sterbelaaide IPL bring baie geld in vir die BCCI en genereer glo meer as $11 miljard vir die Indiese ekonomie.

Die toernooi begin gewoonlik in Maart, maar is weens die koronaviruspandemie herhaaldelik uitgestel. – Reuters

Meer oor:  Indiese Premierliga  |  Sourav Ganguly  |  Bcci  |  Vivo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.