Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
IRV nader IKR oor raskwotas by KSA

Die verwydering van raskwotas by Krieket Suid-Afrika (KSA) is een van verskeie aanbevelings van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) in ’n amptelike versoek wat hy aan die Internasionale Krieketraad (IKR) gerig het om by KSA in te tree.

Nathi Mthethwa, die minister van sport. Foto: Gallo Images

Die IRV vra dat die internasionale krieketbeheerliggaam KSA vir onder meer regeringsinmenging ondersoek en moontlik optree.

Die IKR laat nie regeringsinmenging by sy lidlande toe nie. Zimbabwe is verlede jaar vir drie maande as lidland geskors nadat sy regering die krieketbeheerliggaam se raad geskors het.

Vir die IKR om op te tree, moet daar egter eers ’n formele versoek gerig word. Dít het die IRV nou gedoen in ’n brief waarin hy die volgende aanbeveel:

• Dat alle raskwotas in die kies van spanne en die aanstel van bestuurslede op alle vlakke gestaak word en dat spanne op verdienste gekies, en poste op verdienste gevul moet word;

• Dat regeringsbefondsing aan ontwikkeling van sportgeriewe by openbare skole hertoegewys moet word;

• Dat veiligheid by dié geriewe drasties verbeter moet word om nodige infrastruktuur en kinders te beskerm;

• Dat die private sektor en gemeenskappe betrokke raak in die befondsing en bestuur van skool- en gemeenskaps-sportinfrastruktuur;

• Dat die mag van politici en regeringsamptenare op nasionale en provinsiale vlak om in te meng by sport op alle vlakke, drasties verminder word en dat die regering daarop fokus om befondsing op grond van verdienste en prestasie te verskaf.

Kugandrie Govender, die waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Die IRV het dieselfde eise aan KSA gerig. Die IRV se skrywe is in reaksie op Kugandrie Govender, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, se onderneming aan die departement van sport dat daar voortaan net swart, bruin en Indiër konsultante betrek sal word.

Dít het gevolg nadat Nathi Mthethwa, die sportminister, gedreig het om by KSA in te tree omdat die beheerliggaam volgens hom nie genoeg getransformeer is nie. Dít ondanks die feit dat 52 van KSA se 64 voltydse werknemers swart is, dat die meeste van die raad swart is en dat daar grootliks aan streng transformasieteikens by spanne voldoen word.

In sy brief aan die IKR skryf die IRV die Suid-Afrikaanse regering en KSA berokken die IKR se hoofdoelwit, om krieket wêreldwyd te bevorder, skade.

“Sou die IKR nie in dié verband optree nie, sou dit daarop neerkom dat hy sy goedkeuring gee vir een van die ergste vorms van rasgedrewe sport waarteen daar in die verlede drasties en regverdig opgetree is.”

Die IKR wou nie kommentaar lewer nie.

• Intussen het die minister se woordvoerder, Masechaba Khumalo, Woensdagaand aan Netwerk24 bevestig dat Mthethwa uiteindelik die plofbare forensiese verslag oor KSA-bestuurspraktyke onder oë gehad het.

“Die minister is nog besig om dit te lees,” sê Khumalo.

Dié verslag, wat ná ’n forensiese ondersoek deur die maatskappy Fundudzi opgestel is, het tot die ontslag van die voormalige uitvoerende hoof, Thabang Moroe, gelei.

Dit fokus nie uitsluitlik op Moroe nie en bevat 20 oorhoofse bevindinge, wat “wyd en verreikend” is.

Mthethwa het verlede week opnuut gesê hy wil die verslag sien voor KSA se beplande jaarvergadering, wat Saterdag sou plaasvind, maar Maandag ná ’n vergadering met die departement van sport onbepaald uitgestel is.

KSA het verbete aan dié verslag vasgeklou en Bowmans, KSA se prokureurs, het selfs probeer verhoed dat die lederaad, wat bestaan uit die uniepresidente en die hoogste krieketgesag in die land is, die verslag sien.

Anne Vilas, die president van die Central Gauteng Lions, het in ’n brief daarop aangedring dat die lederaad die verslag sien.

Die toegewing is gemaak dat die lederaad vandeesweek die verslag mag bestudeer, maar hulle kan dit slegs by Bowmans se kantore in Sandton, Kaapstad of Durban, gaan besigtig en moet ’n vertroulikheidsooreenkoms onderteken. Dit is nog onduidelik of Mthethwa ook ’n vertroulikheidsooreenkoms moes onderteken.

Meer oor:  Ksa  |  Instituut Vir Rasseverhoudinge  |  Ikr  |  Krieket Suid-Afrika  |  Kwotas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.