Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Is Keshav reeds SA se beste draaier?

Hy het nog nie eens ’n enkele aflewering in toetskrieket in Indië afgestuur nie, maar Keshav Maharaj word reeds deur die Indiese media as die beste Suid-Afrikaanse draaier tot nog toe bestempel om soontoe te toer.

Keshav Maharaj in September vir Yorkshire in die Engelse graafskap in aksie. Foto: Getty Images

Maharaj (29) was skoon verbaas toe ’n Indiese joernalis hom Maandag vra of dié etiket meer druk op hom plaas om goed te vertoon in die reeks van drie toetse, wat Woensdag in Visakhapatnam begin.

“Ek dink nie ek is die beste nie ... Julle kan my liewer ná die reeks op my vertonings beoordeel,” het die linksdraaier met ’n verleë laggie geantwoord.

“Dit is ’n groot stelling om te maak, dalk kan dit van my gesê word nadat ek eendag uitgetree het, maar vir eers probeer ek net my taak verrig en by eenvoudige planne hou.

“Dit is nietemin lekker as mense met sulke agting van jou praat. Ek wil net ’n bydrae lewer sodat ons toetse en reekse kan wen.”

Ek dink nie ek is die beste nie ... Julle kan my liewer ná die reeks op my vertonings beoordeel.
Keshav Maharaj

Hoewel dit ná slegs 25 toetse te vroeg is om sulke groot stellings te maak, het die Indiese media dalk ’n punt beet.

Maharaj het reeds 94 toetspaaltjies teen 28.44 lopies per paaltjie platgetrek. Hy het reeds vyf keer vyf paaltjies in ’n beurt, en een keer tien paaltjies in ’n toets, geëis. Wat hierdie syfers nóg merkwaardiger maak, is dat net twee van sy toetse tot dusver op die subkontinent gespeel is – in 2018 teen Sri Lanka in Galle en Colombo.

Hy is reeds die Suid-Afrikaanse draaier met die vyfde meeste paaltjies op sy kerfstok. Voor hom is Hugh Tayfield met 170 paaltjies in 37 toetse, Paul Adams (134 in 45), Paul Harris (103 in 37) en Nicky Bojé (100 in 43).

Maharaj staan reeds kop en skouers uit bo die ander draaiers van die 21ste eeu (Tayfield het sy toetse tussen 1949 en 1960 gespeel).

Dié reeks is ’n uitstekende geleentheid vir Maharaj om nog hoër op die lysie vir die voorste paaltjievrate onder Protea-draaiers te klim. Dit is ook ’n kans vir hom om teen topkolwers soos Virat Kohli te bewys die hoë dunk wat draaiboulkenners van hom het, is geregverdig.

“Jy wil jouself teen die beste kolwers toets en ek sien uit daarna. Dit is dus ’n goeie toer vir my om te sien of ek in toetskrieket hoort en hoe goed ek teen die bestes in die wêreld is,” sê hy.

Hierdie is dus ’n goeie toer vir my om te sien of ek in toetskrieket hoort en hoe goed ek teen die bestes in die wêreld is.
Keshav Maharaj

Maharaj wil die bloudruk van twee Indiese draaiers, Ravichandran Ashwin en Ravindra Jadeja, volg.

“Ek wil bestendig wees. As jy kyk na Jadeja en Ashwin – Ashwin het verskeie variasies wat hy boul, Jadeja hou dinge eenvoudig, maar hy is baie bestendig. Hy maak die lewe moeilik vir kolwers.

“As ek dít kan nadoen, sal ek ook sukses behaal. Op die subkontinent, moet jy verwag die bal gaan draai.”

Buiten skerp draai, speel omgekeerde swaaibeweging ook ’n groot rol in Indiese toestande.

“Oral waar jy gaan, wil jy graag omgekeerde swaai bewerkstellig. Ons het boulers wat dit ongelooflik goed kan benut,” sê Maharaj.

Min mense gee die jong, onervare Protea-groep ’n kans. Veral ná die uittrede van spelers soos Hashim Amla, AB de Villiers en Dale Steyn – almal spelers met bewese vertoningslyste in Indië.

Maharaj sien dit in ’n positiewe lig.

“Ons het ’n vars groep, ons kan opwindende krieket speel en ons is hier om sterk mee te ding.

“Wie weet, dalk kan ons ’n paar mense skok oor die volgende paar weke.”

Meer oor:  Indië  |  Proteas  |  Suid-Afrika  |  Keshav Maharaj  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.