Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Is Temba en Quinny Proteas se wenpaar?

Mark Boucher se taak in Suid-Afrika se T20-wedstryde tussen nou en die T20-Wêreldbeker (T20-WB), is om uit te pluis watter kombinasies vir hom die skouspel Doer Onder kan wen.

Temba Bavuma het baie goed gelyk in sy beurt van 43 (27 balle) in die eerste T20-wedstryd teen Engeland. Foto: Getty Images

Temba Bavuma het Woensdagaand in Oos-Londen gewys hy kan een van die kernbelangrike legkaartstukke wees waarna die Proteas se T20-span al vyf jaar lank soek.

Bavuma en Quinton de Kock was Woensdag die 17de aanvangspaar wat Suid-Afrika sedert 2015 in T20-krieket probeer het.

Daar was geen bestendigheid nie – van die 16 pare voor hulle het slegs vyf in meer as vier wedstryde saam die beurt begin.

De Kock en Hashim Amla is die meeste as kombinasie ingespan en het agt keer saam die beurt in kitskrieket begin, insluitende in die T20-WB in 2016.

Amla is nie meer daar nie. Bavuma bied boonop ’n meer natuurlike T20-opsie en sukkel nie om lopies aan te teken nie.

Hy het Woensdagaand geskitter met ’n beurt van 43 (27 balle). Dit is ’n briljante treftempo van net minder as 160. Hy het vyf viere geslaan en dit boonop reg rondom die veld gedoen – bo-oor halfweg, oor middebaan se kop, agter die paaltjiewagter verby, tussen half- en skerpby met ’n veeghou en tussen middebaan en halfby verby met ’n trekhou.

Hy is ook soos ’n Jack Russell wat ’n kat jaag tussen die penne.

Hy en De Kock het ses keer twee lopies gehardloop voordat De Kock (31, 15 b) aan die begin van die vyfde beurt uit is. Dit was nadat die paar 48 in vier beurte opgestapel het.

Dit is in jou agterkop dat jy hierdie naelbytwedstryde in groot toernooie wil wen. Dan is dit belangrik om te wys jy kan dit doen, veral teen topspanne soos Engeland.
Temba Bavuma

“Ek en Quinny het goed begin. Quinny was soos gewoonlik blitsig uit die blokke en ek het ook aan die gang gekom,” sê Bavuma.

“Om eerlik te wees, dit was ’n goeie blad. In T20-krieket het jy nie baie tyd om aan die toestande gewoond te raak nie, jy moet die boulers van die begin af onder druk plaas.”

Natuurlik is een beurt nie genoeg om te bewys Bavuma is die antwoord nie.

Maar die gemaklike wyse waarop hy lopies aangeteken het, is veelseggend. Hy vul die paaltjiewagter ook aan – as aanvangsmaat vir De Kock lyk hy so tuis soos rugby se Ma’a Nonu langs Conrad Smith.

“Ek geniet my witbalkrieket op die oomblik en dit voel of ek die bal goed tref. Ek moet die beste maak van my spelpeil en hopelik kan dit vir so lank as moontlik voortduur,” sê Bavuma.

Hy kry Vrydagaand in Durban die kans om verder aan sy vennootskap met De Kock te bou. Hy sê die oorwinning met een lopie op Buffalo Park het die span vol jong spelers selfvertroue gegee, maar daar is veral een gebied waar hulle kan verbeter.

“Ek was teleurgesteld met ons totaal. Veral as jy kyk waar ons ná 10 beurte was. Ons het op 105/1 gestaan en net met 177 geëindig.

“Tussen die 15de en 20ste boulbeurt het ons slegs 32 lopies aangeteken en dis nie ideaal nie, veral nie ná die begin wat ons gehad het nie.”

Die T20-WB is nog ’n paar maande weg, maar dis duidelik reeds in Bavuma se agterkop.

“Ons is ’n jong span wat almal ’n kleim wil afsteek vir toekomstige T20-wedstryde en almal kan baie selfvertroue uit die vertoning put.

“Dit is in jou agterkop dat jy hierdie naelbytwedstryde in groot toernooie wil wen. Dan is dit belangrik om te wys jy kan dit doen, veral teen topspanne soos Engeland.”

Vrydagaand wil hy eers verseker die span beklink die reeks.

“Ons wil nie ’n situasie hê waar ons Centurion (vir die derde wedstryd Sondag) toe gaan met die reeks op 1-1 nie. Ons voer tans die botoon oor die Engelse span en dit is belangrik dat ons daardie voordeel benut.”

T20-groepe

Suid-Afrika: Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Temba Bavuma, Rassie van der Dussen, David Miller, Pite van Biljon, Dwaine Pretorius, Andile Phehlukwayo, Jon-Jon Smuts, Beuran Hendricks, Tabraiz Shamsi, Lungi Ngidi, Sisanda Magala, Bjorn Fortuin, Dale Steyn, Heinrich Klaasen.

Engeland: Eoin Morgan, Moeen Ali, Jonny Bairstow, Jos Buttler, Sam Curran, Tom Curran, Joe Denly, Chris Jordan, Saqib Mahmood, Dawid Malan, Matt Parkinson, Adil Rashid, Jason Roy, Ben Stokes, Mark Wood.

  • Begintyd: 18:00 op SS 2.


Meer oor:  Quinton De Kock  |  Temba Bavuma  |  Krieket  |  T20  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.