Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Ismail skitter vir Proteas in Diamantstad
Shabnim Ismail het die gety gister vir die Proteas teen Bangladesj gedraai.Foto: Gallo Images

Die aanvangsbouler Shabnim Ismail het Bangladesj met twee paaltjies in een boulbeurt laat ontspoor in sy jaagtog in die eerste T20-krieketwedstryd tussen die lande se vrouespanne.

Al het die Proteas net ’n beskeie 127/6 in Kimberley aangeteken, het hulle steeds met 17 lopies gewen.

Ismael (3/19) het gehelp om die Tiere tot net 110/5 te beperk.

Die Proteas se aanvangskolwer Laura Wolvaardt kyk die bal agterna. Foto: Gallo Images

Die tuisspan se Lizelle Lee (46, 38 b) en Laura Wolvaardt (30, 22 b) het 77 lopies om die eerste paaltjie aangeteken.

’n Ineenstorting waarin die span vyf paaltjies binne vier boulbeurte verloor het, het die Proteas effens in die knyp op 86/5 ná die 13de beurt gelaat.

Suné Luus het egter vasgebyt (28*, 23 b) om die Suid-Afrikaners se kolfbeurt aansien te gee.

Ismail sê egter die Protea-boulaanval het nooit getwyfel in sy vermoë om die wedstryd te beklink nie.

“Dit maak nie saak hoeveel lopies ons moet verdedig nie, want ek dink ons boulaanval is een van die bestes in die wêreld.”

Die besoekers was vroeg op 14/2 in die moeilikheid, waarna Ahmed (36) en Fargana Hoque (35) 72 lopies om die derde paaltjie aangeteken het, voordat Ismail hul aanslag gekou het met die twee paaltjies wat sy in die 16de boulbeurt laat kantel het.

Chloe Tryon het die Proteas in die plek van die gereelde kaptein, Dané van Niekerk, aangevoer, terwyl Stacy Lackay haar buiging gemaak het. Sy kon egter slegs een lopie aanteken.

Die tweede en derde wedstryde van die reeks word Saterdag en Sondag in Bloemfontein beslis.

Meer oor:  Sabnim Ismail  |  Laura Wolvaardt  |  Bangladesj  |  Kimberley  |  T20-Wedstryd  |  Protea-Vroue  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.