Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-kapteinskap: ‘Ja, Keshav kán’
Keshav Maharaj is baie gretig om te lei. Wenkbroue sal lig as hy die nuwe Protea-toetskaptein word . . . maar miskien het hy ’n sterk saak, skryf Tinus van Staden.

Dis asof die Protea-keurders die laaste 17 jaar twee vrae gevra het wanneer hulle kandidate vir die toetskapteinskap bespreek het. Is hy ’n topordekolwer? Is hy ’n lopiemasjien?

Graeme Smith: Ja en ja. Hashim Amla: Check en check. AB de Villiers: Twee regmerkies. Faf du Plessis, Ja-ja (hoewel hy as lopiemasjien onlangs ghries makeer het).

Daarom oorheers Aiden Markram, Temba Bavuma, Dean Elgar en Rassie van der Dussen gesprekke oor wie die nuwe Protea-toetskaptein moet wees. Hulle is almal kolwers in die toporde. Buiten Elgar, wat 2017 as die naasvoorste lopiemaker ter wêreld afgesluit het, kan nie een van hulle al as ’n toetslopiemasjien geklassifiseer word nie, maar elkeen het die potensiaal om dit te word.

Keshav Maharaj
Temba Bavuma
Aiden Markram
Dean Elgar
Rassie van der Dussen
Keshav Maharaj

KESHAV MAHARAJ

Sterkpunte:

Verseker van ’n plek wanneer SA – soos meestal gebeur – met ’n draaier speel.

Het ervaring van kapteinskap by Dolphins.

Uiters gretig vir kapteinskap.  

Vraagteken:

Min boulers voer deesdae toetsspanne aan.

Is KSA gereed om vir die eerste keer ’n draaier Protea-kaptein te maak? 

TEMBA BAVUMA 

Sterkpunte: 

Hy geniet groot agting van sy spanmaats.

’n Eerste swart toetskaptein sal transformasie ’n hupstoot gee.

By die Lions gedy sy kolfwerk onder sy kapteinskap.

Swakpunt:

Sy kolfgemiddeld (30.75) en spelpeil is nie genoeg om sy plek in span te verseker nie.

AIDEN MARKRAM 

Sterkpunte:

’n Natuurlike leier wat al lank as toekomstige Protea-kaptein geoormerk word. 

Uiters talentvolle kolwer, wat wêreldwyd aansien geniet. 

Swakpunte:

Hy is nie verseker van ’n plek in die span nie. 

Sukkel op subkontinent.

Sal die kapteinskap sy kolfwerk nadelig beïnvloed?

DEAN ELGAR 

Sterkpunte:

Ervare en gevestigde senior speler in span. 

Het die span al twee keer aangevoer.

Het ’n taai, duld-geen-nonsens-persoonlikheid.     

Vraagteken:

Ouderdom.

Op 32 het hy nog baie krieket in hom, maar KSA soek moontlik iemand jonger wat die rol lánk kan vertolk.

RASSIE VAN DER DUSSEN

Sterkpunte:

Van der Dussen het ’n bykans onlesbare dors na kennis en het báie by Faf du Plessis kers opgesteek om te hoor hoe hy dink. 

Besig om onmisbaar in die Protea-middelorde te word. 

Swakpunt:

Onervare op internasionale verhoog, hoewel hy baie plaaslike ervaring het.

Dit is dus te verstane dat die linksdraaier Keshav Maharaj se verklaring dié week dat hy daarvan droom om die Proteas aan te voer, met verbasing begroet is. Vir Suid-Afrikaners is dit haas ondenkbaar om te dink dat ’n draaier die toetsspan kan aanvoer. Maar daar is tog ’n paar redes waarom Maharaj (30) as ’n ernstige kandidaat gesien kan word.

Behalwe vir Elgar is hy die enigste van die kandidate wat ’n eerstekeuse-speler in sy posisie is. Bavuma en Markram word as die sterkste kandidate beskou, maar nie een van hulle is eens verseker van hul plek in die span op die oomblik nie.

Maharaj is ook die kaptein van sy franchise-span, die Dolphins. Selfs voordat hy die voltydse kaptein gemaak is, het hy leierseienskappe getoon.

kolf

Grant Morgan het die Dolphins van 2016 tot 2019 afgerig, voordat hy Brittanje toe is waar hy tans die Skotse nasionale span se hulpafrigter is. Onder hom was die kolwer Khaya Zondo die Dolphins-kaptein en Maharaj die onderkaptein.

“Ek wil nie hê dit moet klink of ek enigiemand bo ’n ander kandidaat ondersteun nie, want ek ken hulle almal en hulle is elkeen ’n goeie leier in eie reg,” het Morgan vandeesweek uit Skotland gesê.

“Maar as jy my oor Keshav vra, kan ek sê dat my ervaring met hom as ’n leier baie positief is.

“Hy geniet die agting van sy spanmaats. Hy was energiek en positief op en weg van die veld. Hy het ook sterk idees gehad.

“Tegnies en strategies was hy ’n baie goeie onderkaptein en ek wou hom later graag die voltydse kaptein gemaak het.

“Daar was tye dat hy vir Khaya ingestaan het en ’n goeie taak verrig het. Ons het ’n effense tekort aan spoed in die boulaanval gehad, want Daryn Dupavillon was gereeld beseer.

“Kesh het dus nie soveel tot sy beskikking gehad nie, maar steeds het hy dit reggekry om sy boulers puik aan te wend.”

Die enigste kritiek wat hy teen Maharaj het, is dat hy sy paaltjie met tye weggegooi het.

“Hy is eintlik ’n goeie kolwer.”

Keshav

Maharaj het vandeesweek juis gesê die kapteinskap by die Dolphins het hom met sy kolfwerk gehelp. Die bykomende verantwoordelikheid het hom genoop om meer konsentrasie aan die dag te lê wanneer hy kolf.

“Hy en Senuran Muthusamy het die Dolphins vanjaar in die eendagreeks ’n paar keer uit die moeilikheid gehelp,” sê Morgan.

“Ek het met Heinrich Strydom (die Dolphins se uitvoerende hoof) en Imraan Khan (afrigter) gepraat en hulle is baie tevrede met Keshav.

“Dit was ook ’n belangrike oorweging dat hy van ’n plek in die span verseker was,” sê Morgan.

Die Proteas speel deesdae selde sonder ’n draaier, behalwe op die Wanderers. Die Protea-breintrust kan dit uiteraard oorweeg om vir een wedstryd ’n seisoen die onderkaptein die kaptein te maak.

“Dit gaan afhang van wat Graeme Smith (direkteur van krieket) en Mark Boucher (afrigter) in gedagte het,” sê Morgan.

As Maharaj die kaptein word, sal hy die eerste voltydse kaptein sedert Shaun Pollock (2000-2003) wees wat nie ’n topordekolwer is nie. Hy sal uiteraard die eerste draaier wees wat die toetsspan aanvoer.

“Graeme-hulle sal ook vra of hy al lank genoeg ’n kaptein is, en hoe groot is sy verwysingsraamwerk,” sê Morgan. “En hoe groot invloed gaan die Suid-Afrikaanse ingesteldheid oor draaiers op só ’n moontlike besluit hê?”

Smith het gesê hulle sal bereid wees om ’n kans met iemand te waag. Tot op hede is dit geïnterpreteer as ’n kans op iemand jonk (Markram) of iemand wat homself nog in die span moet vestig (Bavuma of Van der Dussen). Maar dalk kan die onkonvensionele kandidaat Maharaj nou ook as ’n ernstige aanspraakmaker bespreek word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.