Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-vroue skakel na hoër rat oor

Jy kan verskoon word as jy in die aanloop tot vanjaar se T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) nie te hoë verwagtinge van die Protea-vrouekrieketspan gekoester het nie.

Nadine de Klerk in ’n uitbundige luim nadat sy een van haar drie paaltjies in die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker-toernooi teen Australië platgetrek het. Foto: Gallo Images

Kort voor die toernooi in Februarie in Australië begin het, is Suid-Afrika nog oortuigend met 3-1 deur Nieu-Seeland in ’n T20-reeks in die land van die Silwer Varing verslaan.

En tog, Suid-Afrika spog met ’n horde wedstrydwenners soos Dané van Niekerk (kaptein), Lizelle Lee, Marizanne Kapp, Laura Wolvaardt en Shabnim Ismail in sy geledere.

Vandag weet ons dat die Suid-Afrikaners in daardie toernooi in Australië meer as net goeie rekenskap van homself gegee het deur die halfeindronde te haal. En so byna in die eindstryd was.

Reeds in die Proteas se eerste wedstryd, op 23 Februarie in Perth, is die grondslag vir sukses gelê toe die magtige Engeland geklop is. Net om dit in perspektief te stel: Die Engelse het die toernooi in 2009 gewen en was daarna by drie geleenthede die naaswenner.

Daardie sege het wondere vir Van Niekerk-hulle se selfvertroue beteken. Ná Engeland, is ook Thailand en Pakistan getroef, voordat die wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande weens reën afgestel is.

Maar die Proteas, wat boaan Groep B geëindig het, was verseker van ’n plek in die halfeindronde, waar die verdedigende kampioen en gasheerland, Australië, op hulle gewag het.

Suid-Afrika kon nog nooit daarin slaag om die Aussies in T20-krieket te klop nie. Tog was daar, selfs in die afwesigheid van die veelsydige Kapp wat die halfeind weens ’n lugweginfeksie misgeloop het, optimisme in die Protea-kamp.

Maar Australië het daardie dag met vyf lopies danksy die Duckworth-Lewis-formule koning gekraai. Dankie, reën, is wat die Aussies agterna sou gesê het.

Dané van Niekerk lê die langsteel in tydens Suid-Afrika se eerste wedstryd by die T20-Wêreldbeker. Foto: Getty Images

Tog verdien Nadine de Klerk ook ’n dankbetuiging van ’n ander aard. Sy moes Kapp se skoene vol staan – iets wat sy baie goed gedoen het deur 3/19 in vier boulbeurte met haar naatballe plat te trek.

Wolvaardt met kolfbeurte van 53* (teen Pakistan) en 41* (teen Australië) het ook vir die Proteas uitgeblink.

Die Aussies het voortgegaan en die toernooi gewen deur Indië in die eindstryd te klop.

Kort ná die T20-WB is die sportwêreld tot stilstand geruk deur die Covid-19-pandemie. Daar is wel later ’n paar oefenkampe vir die nasionale vrouespelers gehou vir wanneer hulle weer na die speelveld sou terugkeer.

Hier laat in die jaar, toe dinge net-net wou begin terugkeer na ’n mate van normaliteit, het ’n aantal Protea-spelers in die Big Bash-liga in Australië gespeel.

Die Protea-vrouekrieketspan hou kajuitraad tydens ’n wedstryd in die T20-Wêreldbeker. Foto: Getty Images

Een van die uitblinkers daar was Ismail (Sydney Thunder), wat met haar boulvertoning van 2/12 in vier boulbeurte, in die eindstryd as Speler van die Wedstryd vereer is.

’n Hele paar Suid-Afrikaners het ook met die kolf Doer Onder uitgeblink. Mignon du Preez (380 in 13 kolfbeurte) en Wolvaardt (347 in 14) het goeie rekenskap van hulself gegee.

Die jaar is afgesluit met die T20-Superliga, wat verlede week oor drie dae op Nuweland in Kaapstad beslis is. Daar het iemand soos Suné Luus, wat beurte van 53, 42 en 55 met die kolf aangeteken het, gewys dat daar nie sprake van roes is nie.

Daar sal derhalwe versigtige optimisme by die Proteas wees voor hul reeks teen Pakistan in Januarie.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.