Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Janneman skitter in Blitz se MSL-sege oor Stars

Spoggerige kolfbeurte, twee legendes in ’n tweestryd gewikkel, jonges wat hul stempel afdruk en ’n lopiefees wat tot naby die einde nog in die weegskaal was. . . vir ’n beter wedstryd om die Mzansi-superliga (MSL) mee te begin, kon Krieket Suid-Afrika (KSA) beswaarlik wens.

Janneman Malan vier sy vyftigtal. Foto: Gallo Images

Die Cape Town Blitz het gisteraand in die openingswedstryd van die reeks die verdedigende kampioen, die Jozi Stars, met 15 lopies geklop.

Toe die Blitz se Janneman Malan (99*, 59 balle; 11x4, 4x6) sommer in die tweede boulbeurt al vir Kagiso Rabada van die Stars met ’n luglangse dryfhou oor die dekke vir ’n ses piets, het die Wanderers-skare begin vermoed hier kom ’n lekker wedstryd. Een met sommer baie sesse.

Dit is toe ook wat hulle gekry het, met die Stars se eie Reeza Hendricks wat Malan dit nagedoen het en self ’n windmakerige beurt van 80 (53 balle, 11x4, 1x6) gespeel het.

Hendricks sou sy span waarskynlik oor die wenstreep gehelp het, was dit nie vir die immergroen Dale Steyn (3/25 in drie boulbeurte) se briljante boulwerk nie.

Die Stars het moedig probeer om die Blitz se totaal van 213/3 verby te steek, maar het op 198/5 vasgeval.

Met ’n oorwinning van 15 lopies vergoed die Blitz sodoende vir hul misoes in verlede jaar se eindstryd tussen die einste twee spanne in Kaapstad.

Die sege sal as troos dien vir Malan nadat hy van sy honderdtal weerhou is deur ’n goeie opslagbal met die laaste aflewering van die beurt deur die Stars se Australiese invoerproduk, Dan Christian.

Die MSL is na spelers soos hy se maat gesny – jong, honger spelers wat hul talente ten toon wil stel. Die 23-jarige Malan het gewys hy gaan nog baie internasionale wedstryde voeg by die twee T20-wedstryde wat hy al vir die Proteas gespeel het.

Aan die begin van die Stars se beurt was daar ’n aanskoulike tweestryd tussen die strydrosse Dale Steyn en Chris Gayle. Steyn het Gayle se paaltjie vir 17 skadelose lopies geëis.

Temba Bavuma, die Stars se kaptein, het sy kolfkans gebruik om ’n paar wanpersepsies oor hom uit die weg te ruim. Hy het die Stars se beurt met ’n blitsige 38 van 15 aflewerings aan die gang gekry. Dit is die einste Bavuma aan wie daar steeds die stigma kleef dat hy slegs ’n meerdagspeler is.

Die opwindende wedstryd sou presies wees wat KSA wou hê om belangstelling in die MSL ’n adrenalien-inspuiting te gee. Die MSL het weliswaar nog nie ’n hoofborg nie, maar jong ouens soos Janneman en staatmakers soos Hendricks gaan die land se krieketliefhebbers die somer vermaak.

Nou moet KSA ook net in die raadsale ’n paar sesse geslaan kry.

Meer oor:  Janneman Malan  |  Krieket  |  Jozi Stars  |  Wanderers  |  Cape Town Blitz  |  Mzansi=Superliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.