Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Jean maak pepermente bymekaar
Bok teen Protea: Damian de Allende (links), JP Duminy (middel) en Jean de Villiers is slaggereed vir Donderdagaand se T20-stryd op Nuweland. Foto: Gallo Images

Graeme Smith se teenwoordigheid in die Springbokspan vir Donderdagaand se T20-stryd op Nuweland gaan as bykomende motivering vir die Proteas dien om hul rugby-eweknieë ’n krieketles te leer.

Só het die Protea-kolwer JP Duminy geskerts op die vooraand van die Nelson Mandela Legacybeker-wedstryd.

Volgens Duminy, met sy tong ferm in sy kies, gaan die nasionale krieketspan op die “Australiese manier” speel en nie die wedstryd te ligtelik opneem nie.

Die Proteas soek wraak nadat die Bokke twee jaar gelede met vyf paaltjies op die Wanderers gewen het.

Smith, ’n voormalige Protea-kaptein, doen diens as speler/afrigter vir die rugbyspelers in die kragmeting. Duminy het gesê hoewel Kagiso Rabada nie daar gaan wees om die rugbyspan met sy kartetse te peper nie, kan Smith hom maar staal vir ’n paar wipballe.

“Ek weet jy mag net een (wipbal) per boulbeurt afstuur, maar vir Graeme is ons bereid om ’n paar ekstras af te staan om so drie per beurt te boul,” het Duminy gespot.

Jean de Villiers, die voormalige Bok-kaptein, het Woensdag gesê hy is nog nie heeltemal seker hoe sy finale elftal gaan lyk nie.

De Villiers verduidelik tot Duminy se groot vermaak hoe hy pepermente gaan inspan om ’n bietjie ekstra swaai te bewerkstellig. Foto: Gallo Images

“Ons het al in verbinding getree op ’n WhatsApp-groep en in dié stadium het ons een naatbouler, drie paaltjiewagters, een aanvangskolwer en die res van die span wat tussen nr. 9 en nr. 11 wil kolf.”

“Ons het egter ’n intensiewe ontleding gedoen en het beeldmateriaal bestudeer van die Proteas se vertonings in Australië. Ek het klaar ’n hele paar swakplekke in jou mondering gesien,” het hy vir Duminy gesê.

“Ons het egter al ons oefeninge agter geslote deure gehou en hulle weet dus glad nie wat om van ons te verwag nie. Ons is baie mededingend. Ons gaan alles doen om ons neus voor te kry,” het De Villiers gesê.

“Ek het gister juis by my seuntjie se verjaardagpartytjie al die pepermente ingesamel om vir ons ’n voordeel te gee,” het De Villiers met verwysing na die Faf du Plessis-balpeuterydebakel gesê.

Die Bok-senter Damian De Allende het op sy beurt gesê hy was ’n kranige bouler in sy jonger dae, maar het sedert sy dae op die skoolbanke maar bitter min krieket gespeel.

“Die laaste keer wat ek gespeel het, was toe ons die Proteas geklop het.”

Krieket Suid-Afrika hoop om R1 miljoen vir die Nelson Mandela-stigting in te samel en het Woensdag gesê daar is nog 4 000 kaartjies beskikbaar vir die wedstryd wat Donderdagaand om 18:00 op Nuweland se krieketveld begin.

Proteas:
Hashim Amla, Mangaliso Mosehle, Faf du Plessis (k), JP Duminy, David Miller, Farhaan Behardien, Wayne Parnell, Dwaine Pretorius, Aaron Phangiso, Imran Tahir, Kyle Abbott.
Springbokke (uit):
Damian de Allende, Faf de Klerk, Jean de Villiers, Stephan Dippenaar, Butch James, Rohan Janse van Rensburg, Conrad Jantjes, Pat Lambie (k), Tiaan Liebenberg, Percy Montgomery, Trevor Nyakane, Sergeal Petersen, Graeme Smith. Nie-spelende plaasvervanger: Siya Kolisi

* TV: Van 17:30 op SS 2 en GDN.

Meer oor:  Graeme Smith  |  Jean De Villiers  |  Krieket  |  Springbokke  |  Proteas  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.