Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Jennings sê ook Markram moet Proteas lei

Ray Jennings het sy stem gevoeg by dié van dr. Ali Bacher, wat glo dat Aiden Markram die aangewese kandidaat is om die Suid-Afrikaanse toetskrieketspan die toekoms in te lei.

’n Jong Aiden Markram (links) en Ray Jennings in 2014 saam met Haroon Lorgat, die destydse uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, nadat die nasionale o.19-span die Wêreldbeker-toernooi gewen het. Foto: Gallo Images

Jennings, ’n voormalige nasionale afrigter, was die afrigter van die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan in 2014 toe daardie span, met Markram as kaptein, die Wêreldbeker-toernooi in Dubai gewen het.

Hy is waarskynlik die beste toegerus om ’n berekende uitspraak te lewer oor wie Suid-Afrika se toetskaptein moet wees, aangesien hy ook die afrigter by die o.19’s se nasionale span was van twee van die ander sterk kandidate om by Faf du Plessis oor te neem, naamlik Dean Elgar en Temba Bavuma.

Tog is dit Markram wat sy stem kry, het Jennings vanuit Mauritius gesê, waar hy hom nou in die isolasie-tydperk weens die koronavirus-pandemie bevind.

Sy hoofrede is dat Markram die natuurlikste leier van die drietal is.

“ ’n Kaptein moet oral aanklank kan vind. Die ondersteuners moet aan sy lippe kan hang en hy moet amper soos ’n baie gewilde politikus kan wees. Hy laat my eintlik as leier baie dink aan (wyle) Hansie Cronjé. Hansie was baie gelief by die krieketpubliek.

“Dink net hoekom mense bereid was om hom te vergewe en steeds lief te hê ondanks die knoeiery-skandaal. As hy nie soveel agting afgedwing het en daar nie soveel liefde by krieketmense vir hom was nie, sou hy gewis ’n gehate figuur gewees het. Tog was dit nie die geval nie.

“Aiden is iemand wat ek glo net so gelief kan wees. Hy is opreg en sag en is ’n baie goeie spreker. Ek glo hy sal oral aanklank vind.

Ray Jennings glo ook Aiden Markram is die beste kandidaat om die Proteas se toetsspan te lei. Foto: Gallo Images

“Hy straal leierskap uit en dit is baie belangrik. Neem nou net vir pres. Cyril Ramaphosa. Hy is ook een van daardie leiers wat ’n geliefde karakter is. Weeg dit nou ’n bietjie op met hoe daar gedink is oor Jacob Zuma.

“Die nasionale krieketkaptein moet ook goeie aanklank vind by die administrateurs van die spel en daar glo ek ook is Aiden die geskikste. Sy verhouding met die afrigter moet soos ’n huwelik wees.

“Dit is amper asof Mark Boucher (afrigter) weer vir hom ’n vrou moet kies wanneer daar nou op die nuwe kaptein besluit word.

“Hy het reeds saam met Aiden gewerk by die Titans en dit sal baie tel. Die kaptein moet ’n goeie mens wees en daarom staan Aiden vir my voor in die tou,” sê Jennings, wat erken hy en Markram het baie goed oor die weg gekom as afrigter en kaptein.

“Takties is hy ook baie goed en dink op die veld wanneer dit nodig is. Dean Elgar is so agt jaar of wat ouer as hy en die een voordeel wat hy het, is dat hy as speler seker die sekerste van sy plek is.

“Al was Markram se kolfpeil nie die beste net voor sy beserings nie, is dit tog so dat elkeen in ’n stadium deur ’n moeilike tydperk gaan wat kolfpeil betref. Selfs al moet dit dan wees dat Boucher-hulle hom vir ’n jaar of wat moet dra deur hom op vyf of ses te laat kolf en nie die beurt te laat open nie, sal dit goed so wees solank sy leierskap gebruik kan word,” sê Jennings.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Ray Jennings  |  Proteas  |  Ali Bacher  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.