Die Cape Cobras se krieketspan hoop ’n paar nuwelinge kan hulle Vrydag in Potchefstroom help om hul eerste oorwinning van die seisoen te behaal.
Die Cobras pak die Lions in die eerste wedstryd van Groep B in die plaaslike eendagreeks.

Die Cape Cobras se nuwe paaltjiewagter, Jean du Plessis, slyp verlede week sy vaardighede op Nuweland. Foto: Gallo Images
Die 22-jarige bybreekbouler van die Maties, Benjamin Ward, en die paaltjiewagter-kolwer Jean du Plessis is twee van die groentjies op wie die Kaapse streekspan gaan staatmaak.
Die Kapenaars het nie ’n enkele oorwinning in die eerste helfte van die plaaslike meerdagreeks behaal nie. Die Cobras was die enigste van die ses franchises wat nie ’n wedstryd kon wen nie.
Ward, wat al internasionale krieket vir die eiland Jersey gespeel het, is ’n tweedejaarstudent op Stellenbosch.
Ryan Bailey, die Maties se afrigter, sê Ward se insluiting in die Cobras-groep is ’n beloning vir harde werk.
“Hy is ’n fantastiese ou om in die span te hê. Hy is uiters mededingend en speel met baie intensiteit,” sê Bailey.
“As ’n bybreekbouler boul hy vinniger deur die lug as gebruiklik en kry hy baie paaltjies met been-voor-paaltjie-beslissings. Ek gebruik hom as ’n aanvallende bouler, wat paaltjies neem. Ek weet nie hoe die Cobras beplan om hom aan te wend nie.”
Du Plessis gaan weer gevra word om die groot skoene van die Proteas se Kyle Verreynne te vul.
Ashwell Prince, die Cobras se breier, sê Du Plessis is ook ’n topordekolwer.
“Ons gaan hom vra om dieselfde rol as Kyle te vervul. Hy sal straks op nr. 4 of nr. 5 kolf,” het Prince uit Potchefstroom op ’n Zoom-nuuskonferensie gesê.
Die Cobras, die Lions en die Warriors is tans in ’n bioveilige borrel in Potchefstroom vir die tweede helfte van die reeks. Die Titans, Knights en Dolphins het in die laaste twee weke in Groep A meegeding, maar die reeks is lelik deur reën en ’n nat buiteveld omvergewerp.
Prince sê hy is nie regtig iemand wat homself vooraf te veel oor die weer bekommer nie en sal later in die week kyk hoe die voorspellings lyk.
Prince het bevestig dat die Kapenaars tot Dinsdagoggend in hul individuele hotelkamers in kwarantyn was, maar dat almal se Covid-19-uitslae negatief was en dat hulle Dinsdagmiddag hul eerste oefening sou bywoon.
“Die borrel gaan ons as ’n span die kans gee om in die volgende paar weke meer tyd saam te bestee en hopelik in ’n goeie eenheid saamgesnoer te word.”