Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Jong Ntini voortaan ’n Titan

Ontmoet vir Thando, die Titan.

Die 19-jarige snelbouler Thando Ntini het ’n kontrak met die Titans gesluit en sal sy krieket voortaan in Centurion speel.

Thando Ntini. Foto: Gallo Images

Hy is die seun van die eertydse nasionale speler, Makhaya Ntini, en het vanjaar sy eersterangse debuut vir die Cape Cobras gemaak. Hy het ook voorheen vir die Suid-Afrikaanse o. 19-span gespeel en hoewel hy nog maar ’n groentjie op senior vlak is, het hy al genoeg belofte getoon om te wys hy is ’n belegging vir die toekoms.

Pierre Joubert, die waarnemende uitvoerende hoof van die Titans, het Maandag bevestig dat Ntini wel voortaan ’n Titan sal wees.

“Ons afrigter, Mandla Mashimbyi, het ’n baie hoë dunk van hom en het gevoel hy is iemand wat waarde sal toevoeg tot ons boulaanval,” sê Joubert.

“Ons boulaanval het nie vertoon soos ons van hulle verwag het nie en daarom is dit vir ons belangrik om veral boulers van gehalte aan te skaf,” sê hy.

“Thando is wel ’n jong speler en ons sal ook nog soek na ’n paar meer ervare boulers. Jy wil nie eintlik té veel jong spelers in jou boulaanval hê nie,” gee Joubert toe.

“Wat ek van Thando hoor is dat hy ’n baie goeie werketiek het en dit is al klaar positief. Jy het spelers nodig wat nie skroom om hard te werk om bo uit te kom nie,” reken Joubert.

Dit was vir die Titans ’n buitengewone seisoen. Ná ’n paar jaar waarin altyd een, of meestal twee, trofeë in die trofeekas staangemaak is, staan die kas nou leeg.

“Ja, dit was ’n moeilike en ontwrigtende seisoen. Ons was ook wat die vierdaagse reeks betref in ’n gunstige posisie met net agt ligapunte agter die voorloper en enigiets kon daar gebeur het as die reeks voortgegaan het,” sê hy van die seisoen wat kortgeknip is deur die Covid-19-pandemie.

Joubert is teen die einde van verlede jaar by die Titans aangestel as die waarnemende uitvoerende hoof nadat Jacques Faul in dieselfde hoedanigheid opgeroep is na Krieket Suid-Afrika (KSA).

Kort daarna is Mashimbyi ook as die nuwe hoofafrigter aangestel, met Mark Boucher wat die leisels van die nasionale span geneem het.

“Dit was alles aanpassings wat ons seisoen ontwrig het. Ek glo enige unie sal sukkel as daar soveel skommelings in die middel van ’n seisoen plaasvind,” sê hy.

“In die geheel was daar goeie en slegte dinge in ons seisoen. Daar sal ook wat spelers betref veranderinge wees,” sê hy.

Die Titans se aanvangskolwer Tony de Zorzi het reeds aangedui dat hy sy krieketloopbaan in die Kaap by die Cobras sal voortsit. Joubert sê daar sal in die afsienbare toekoms aankondigings gemaak word oor nuwe spelers wat Centurion toe kom.

Mashimbyi is reeds aangestel as die hoofafrigter vir aanstaande seisoen, en die pos as sy assistent sal geadverteer word. Na verneem word dui alles daarop dat Geoffrey Toyana, wat hom sedert Boucher se vertrek in daardie rol bygestaan het, weer sy regterhand sal wees.

Meer oor:  Titans  |  Krieket  |  Cobras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.