Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Jong Proteas: Dis nóú tyd om te blom

Die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan sal moet nou uithaal en wys nadat hy in die aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi gesukkel het om te oortuig.

Die kapteins van die spanne wat mekaar Vrydag in die openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi vir o.19-spanne pak: Farhan Zakhil van Afganistan en Suid-Afrika se Bryce Parsons.Foto: Krieket Suid-Afrika

Die gasheer van vanjaar se toernooi vir die spel se sterre van die toekoms, speel Vrydag in die openingswedstryd van die toernooi in Kimberley teen Afganistan. Dié spanne is in Groep D geloot.

Suid-Afrika sal dié kragmeting nie met ’n oormaat selfvertroue binnegaan nie.

Die jong Proteas het immers net drie van hul nege wedstryde sedert 26 Desember gewen.

Die SA o.19’s se afrigter, Lawrence Mahatlane, wys daarop dat hulle verlede jaar ’n voorsmaak gehad het van wat om van hul teenstanders te verwag in Kimberley. Hy het Afganistan beskryf as ’n span wat “ses draaiers en vyf naatboulers in sy geledere het”.

Suid-Afrika het albei sy wedstryde teen dié span in Maart in die vierhoekige reeks in Thiruvananthapuram, Indië, gewen.

Die Proteas se Wêreldbeker-hulpafrigter Malibongwe Maketa is ook intussen tot die afrigtingspan gevoeg nadat daar in ’n stadium gerugte was dat hy as breier kan oorneem.

Die Suid-Afrikaners se kaptein, Bryce Parsons, het vroeër – ná ’n nederlaag teen Zimbabwe – groot dinge van die span beloof.

Parsons het die eerste twee wedstryde in die eendagreeks teen Indië in Oos-Londen met ’n rugbesering misgeloop.

Die snelbouler Gerald Coetzee, kan Suid-Afrika se troefkaart met die bal wees. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika het Indië toe in die derde en laaste wedstryd van die reeks geklop.

Hy het Nieu-Seeland ook vooraf in ’n vierhoekige reeks in Durban geklop en toe Dinsdag maklik met Nigerië afgereken. Daar was vier nederlae teen Indië, terwyl hy ook ’n slag teen Zimbabwe en Sri Lanka verloor het.

Suid-Afrika se snelbouler Gerald Coetzee was net in die laaste drie wedstryde teen Indië, Sri Lanka en Nigerië in aksie, nadat hy ’n dyspierbesering afgeskud het wat hy in die Mzansi-superliga by die Jozi Stars opgedoen het.

Die Afgane is die afgelope Sondag in ’n opwarmwedstryd vir net 44 deur Indië (255/8) uitgeboul.

Afganistan (205/8) het daarna gewys hy durf nie onderskat word nie, toe hy Engeland (184) Dinsdag in Hammanskraal verras het.

Die Afgane se Ibrahim Zadran het al twee toetse, ’n eendagwedstryd en drie T20-wedstryde vir Afganistan se senior nasionale span gespeel. Hy het in sy eerste toets 87 lopies aangeteken. Dít was in Afganistan se tweede beurt in die geskiedkundige toetssege oor Bangladesj in September in Chattogram.

Toegang is gratis.

* SA o.19 (uit): Bryce Parsons (k), Khanya Cotani, Luke Beaufort, Jonathan Bird, Merrick Brett, Achille Cloete, Gerald Coetzee, Tyrese Karelse, Mondli Khumalo, Jack Lees, Andrew Louw, Levert Manje, Odirile Modimokoane, Pheko Moletsane, Tiaan van Vuuren.

TV: 09:50 (SS6)

Meer oor:  Wêreldbeker-Toernooi  |  Afganistan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.