Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gerald Coetzee terug vir kwarteindstryd

Hulle is ná agtereenvolgende seges op ’n goeie plek én sal boonop terug op volsterkte in die boulafdeling wees.

So sê Lawrence Mahatlane, afrigter van die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan, aan die vooraand van hul Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Bangladesj Donderdag in Potchefstroom.

Gerald Coetzee kan weer oorweeg word. Foto: Gallo Images

Dit beteken dat die gasheer weer kan steun op sy voorslagbouler Gerald Coetzee wat die laaste twee wedstryde met ’n sny op sy linker-groottoon misgeloop het.

Dié nuus oor die blitsbouler sal die Tierwelpies onrustig stem, maar Suid-Afrika sal op sy beurt lugtig vir Bangladesj se draaiers wees.

Die Suid-Afrikaanse kolwers kolf nietemin – nadat Afganistan se draaiers hulle in die eerste wedstryd afgeransel het – met meer selfvertroue.

“Ons het beeldmateriaal van Bangladesj gesien. Ons weet hul natuurlike sterkpunt is hul draaiers, maar hulle het ook ’n paar goeie naatboulers in die geledere,” sê Mahatlane.

Die kaptein, Bryce Parsons, het teen Kanada in Potchefstroom die gasheer se enigste honderdtal van die groepfase aangeteken.

“Ek sal graag wil sien dat ons meer honderdtalle aanteken. Dit is die verskil tussen spanne wat wen of nie. Dis belangrik dat kolwers wat aan die gang kom, groot beurte speel.”

Suid-Afrika was in 2018 se toernooi in Nieu-Seeland met agt paaltjies aan die wenkant teen Bangladesj in die uitspeelstryd om die vyfde plek.

Bangladesj se linkerhandse naatbouler Mrittunjoy Chowdhury is intussen vervang nadat hy net in die eerste twee groepwedstryde gespeel het.

Bangladesj het in sy opwarmwedstryde in Suid-Afrika gelykop teen Australië gespeel en toe teen Nieu-Seeland verloor.

Al drie sy groepwedstryde was in Potchefstroom.

Hy het Zimbabwe en Skotland met onderskeidelik nege en sewe paaltjies geklop en die groep gewen nadat sy wedstryd teen Pakistan met sy telling op 106/9 uitgereën het.

As die wedstryd Donderdag uitreën, sal Bangladesj die halfeindstryd haal omdat hy ’n groepwenner was.

Kirk McKenzie is vir 99 uitgehaal. Foto: Getty Images
Kristian Clarke het die Kiwi’s met die kolf kom red. Foto: Getty Images

* Die wenner sal in die halfeindstryd teen Nieu-Seeland speel, wat Woensdag in Benoni uitstekend teruggeveg het om die onoorwonne Wes-Indiese Eilande met twee paaltjies te klop, met net twee balle oor in die beurt.

Die Windies se Kirk McKenzie is met sy telling op 99 van die veld gedra toe hy erge krampe ondervind het. Nadat die negende paaltjie gekantel het, is hy weer terug kolfkampie toe, maar toe met die eerste bal geboul.

Kristian Clarke, wat hom sy honderdtal ontsê het, was een van die Kiwi-kolfhelde teen die einde.

Clarke (46*) en Joey Field (38*) het op 153/8 geweier om bes te gee en die Windies se 238 oortref met nog twee balle oor.

TELKAART

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.