Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Jong Proteas slag Nigerië af in Pretoria

’n Kliniese vertoning deur die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan se boulers het Nigerië Dinsdag ’n slegte voorsmaak gegee van wat op hom wag in die Wêreldbeker-toernooi in Suid-Afrika.

Die jong Proteas se kaptein, Bryce Parsons, het 48 lopies van net 27 balle gemoker teen Nigerië in die twee spanne se Wêreldbeker-opwarmingswedstryd by Tuks. Foto: Getty Images

Suid-Afrika het in Pretoria ’n wegholoorwinning met agt paaltjies behaal nadat Nigerië die loot gewen en besluit het om eerste te kolf.

Dié besluit het in sy gesig ontplof met die span wat eers tot 42/5 gesteier het in die 20ste boulbeurt, voordat almal terug in die kleedkamer was vir ’n skamele 61 lopies ná 37 boulbeurte afgestuur is.

Mondli Khumalo, Bryce Parsons, Merrick Brett, Odirile Modimokoane en Tiaan van Vuuren het almal twee paaltjies platgetrek, met hul teenstanders wat net eenvoudig nooit toegelaat is om aan die gang te kom nie.

Modimokoane het in sy ses boulbeurte net twee lopies afgestaan. Parsons het ook net vier lopies in sy sewe boulbeurte afgestaan.

Suid-Afrika se kolfbeurt het op die slegste wyse moontlik begin toe ’n misverstand tussen Andrew Louw en Jonathan Bird daartoe gelei het dat laasgenoemde uitgehardloop is en binne die eerste boulbeurt moes terugstap sonder dat hy ’n enkele bal getrotseer het.

Parsons, die kaptein, was egter nie lus vir rondkrap nie en het 48 lopies van net 27 balle (9x4, 1x6) gemoker, voordat hy deur Akhere Isesele gevang is toe hy nóg ’n groot hou probeer speel het.

Luke Beaufort (9*) het die uitklophou toegedien en Suid-Afrika se oorwinning beklink.

Die Suid-Afrikaners se spelpeil die afgelope ruk was nie watwonders nie, maar die vertoning teen die Nigeriërs – al was dit nie sterk teenstand nie – sal hul gemoedere lig voordat hul WB-veldtog Vrydag in Kimberley teen Afganistan begin.

Suid-Afrika het verlede week onder andere teen Zimbabwe, Indië en Sri Lanka verloor en in Desember ook deeglik slae by die Indiërs gekry in ’n eendagreeks.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.