Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Jonker soos ‘jong groentjie’ by Cobras

Die Protea-kolwer Christiaan Jonker se skuif na die Boland het baie te make met sy planne vir die dag wanneer hy sy wilgerlat gaan wegpak.

Hy mik na ’n loopbaan in afrigting en sê die klomp skole daar en in die Kaap het heelparty geleenthede vir toekomstige breiers te bied.

Die kragtige kolwer Christiaan Jonker verlede week in Potchefstroom in sy eerste wedstryd in die kleure van die Cape Cobras. Foto: Gallo Images

Hy dink egter nog nie aan uittree nie.

Trouens, met sy debuut vir die Cape Cobras, van wie die Boland ’n voederspan is, het dit vir hom weer soos aan die begin van sy speeldae gevoel.

“Daar was vlinders in my maag, ek het weer soos ’n rookie gevoel. Ek het met die eerste bal in die middel van die kolf beter gevoel, en alles het toe darem weer na my toe teruggekom,” sê die kolwer.

Die 34-jarige Jonker, wat in 2018 in twee eendag- en twee T20-wedstryde vir die Proteas gespeel het, het 33 in sy eerste wedstryd vir die Cobras – hul eendagstryd teen die Lions Vrydag in Potchefstroom – aangeteken.

Die Kapenaars speel Woensdag en Donderdag daar in agtereenvolgende Groep B-wedstryde in die eendagreeks teen die Warriors, Jonker se voormalige span.

Hy het 2019 in laas vir hulle gespeel, maar is vertroud met van die senior spelers in die span.

En ja, hulle ken almal mekaar se swakplekke, skerts hy.

Jonker word by die Cobras ook as ’n middelorde-kolwer ingespan, net soos vroeër by die Warriors, vir wie hy baie wedstryde deur die drif gehelp trek het.

Die Warriors en Cobras hoop intussen om op die wenpad te kom nadat albei die afgelope naweek hul wedstryde teen die Lions verloor het.

Die spanne het met die Groep A-wedstryde wat erg deur reën ontwrig is, gesien hoe belangrik elke wedstryd is. Die wolke is hoeka weer in Noordwes aan’t saamtrek.

Die Cobras is boonop onder druk om hul eerste wedstryd van die seisoen te wen nadat hulle vooraf ook nie een van hul meerdagwedstryde gewen het nie.

Die Kaapse span kon ook nie verlede seisoen in enige van sy meerdagwedstryde koning kraai nie.

Jonker sê dit is net ’n kwessie van tyd voordat die span kliek.

Meer oor:  Krieket  |  Cape Cobras  |  Boland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.