Hy het nooit in gevaar gevoel tydens die Pakistanse Superliga (PSL) nie, sê Chris Jordan, een van ’n handvol Engelse krieketspelers wat vir die koronavirus getoets is.
Die meerderheid van die buitelandse spelers in die PSL het vroeër vandeesmaand besluit om hul vertoef in Pakistan kort te knip weens die wêreldwye toename van Covid-19-gevalle, maar Jordan, Ravi Bopara, Moeen Ali en Samit Patel het besluit om aan te bly.

Chris Jordan. Foto: Gallo Images
Die naatbouler van Sussex was besig om hom voor te berei vir die halfeindstryd in Lahore toe hy Sondag verneem het dat Alex Hales, sy spanmaat by die Karachi Kings, simptome van die virus ervaar het met sy terugkeer na Engeland.
Die PSL is ná dié nuus onmiddellik afgelas.
Voor sy terugkeer is Jordan ’n toets vir die virus aangebied. Hy het hom laat toets en dit was negatief.
“Ek het met Alex gepraat toe hy begin sleg voel het. Hy het die ouens in ons span gekontak om hulle te vertel wat hy ervaar en van daar het dinge toe vinnig gebeur,” het Jordan volgens die PA-agentskap gesê.
“Ons het die toets gedoen, maar ek was nie te bekommerd nie, ek het alles deeglik gevolg. Ek het geweet dit kan enigeen plattrek, maar ook dat daar meer mense daarvan herstel het.”
Jordan sê hy het probeer kalm bly, maar dit was belangrik om sy status te weet omdat sommige mense die virus onder lede het maar geen simptome toon nie.
’n Paar dae gelede het ons nie geweet daar gaan ’n inperking wees nie. Binne drie weke kan alles óf vererger óf dalk afneem. Wie weet?
Hy voel nie spyt dat hy aangebly het nie.
“Elkeen het vir homself besluit, wat almal het verskillende scenario’s, met families en kinders. Dit was nie ’n geval dat almal gaan as een gaan, of almal bly as een bly nie,” sê Jordan.
“Die gevalle in Pakistan was steeds minimaal. Maar ’n ou moes jouself afvra of jy nog sou kon terugkeer as dinge vinnig in Engeland verander. Ek het nietemin gevoel as iets gebeur sou ons vroeg daarvan in kennis gestel word.”
Jordan bevind hom nou in inperking. Hy sukkel nie om sy fiksheid te behou nie, met drie sessies ’n dag, maar hy mis reeds volle krieketsessies.
“Ek kan nie onthou wanneer laas ek so lank sonder ’n netoefening was nie. Ek het die heeltyd ’n bal in my hand en stuur baie skadu-aflewerings af om gereed te wees vir wanneer die tyd (vir krieket) weer aanbreek.”
Hy wil nie gis of dink aan wat gaan of kan gebeur nie.
“ ’n Paar dae gelede het ons nie geweet daar gaan ’n inperking wees nie. Binne drie weke kan alles óf vererger óf dalk afneem. Wie weet?” – TeamTalk