Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Jos: ‘Quinton een van my gunstelinge’
Jos Buttler benut ’n puik vangkans in Engeland se toetsreeks teen Pakistan. Foto: Getty Images

Die onstuimigheid in die raadsale van Krieket Suid-Afrika (KSA) het verlede week vir Ashley Giles, die direkteur van krieket van die Engelse Krieketraad (ECB), genoop om die Engelse spelers te kontak en gerus te stel dat hul toer na Suid-Afrika waarskynlik steeds sal voortgaan.

“Ons het natuurlik gehoor wat met die raad in Suid-Afrika gebeur het oor die laaste paar maande en ons het verwag dat dit alles uitgepluis sou wees voordat ons moet toer,” het die Engelse paaltjiewagter, Jos Buttler, in ’n onderhoud gesê wat die ECB Maandag beskikbaar gestel het.

Om weer in die koerante (verlede week) te moes lees die toer is in die weegskaal, het ’n mens laat wonder wat aangaan.
Jos Buttler

“Toe ons hoor dit gaan voortgaan, was ons baie opgewonde. Maar om weer in die koerante (verlede week) te moes lees die toer is in die weegskaal, het ’n mens laat wonder wat aangaan. Ashley Giles het uitgereik en gesê hulle is vol vertroue dat die toer sal voortgaan en hulle sal almal op hoogte hou.

“As spelers het dit niks met ons te doen nie, ons sien net uit na die krieket. Die raad moet hulle op daardie goed toespits.”

Die toer sal steeds voortgaan, ondanks KSA se lederaad (die hoogste gesag in die land, bestaande uit die uniepresidente) se besluit om minister Nathi Mthethwa se interim raad te betwis.

Engeland vertrek Maandag na Suid-Afrika. ’n T20-reeks van drie wedstryde begin op 27 November in die Kaap, waarna die spanne mekaar ook in drie eendagkragmetings sal pak.

Die Engelse paaltjiewagter Jos Buttler is ’n groot bewonderaar van Quinton de Kock, hier in aksie vir die Proteas. Foto: Gallo Images

Buttler is ook uitgevra oor die Protea-kaptein, Quinton de Kock, en die gevaar wat hy vir die Engelse inhou.

“Ek is ’n groot bewonderaar van hom. Hy is ’n uitstaande speler, hy het ’n baie skerp krieketbrein. Ek hou van hoe hy dink en hoe hy die boulers hanteer,” sê Buttler.

“Hy is tans waarskynlik een van my gunstelingspelers in die wêreld. As jy teen hom speel, is dit baie moeilik om sy kolf stil te hou.

“Hy is ook ’n uitstaande paaltjiewagter en hy gaan ’n groot gevaar inhou.”

Spelers soos Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Faf du Plessis betree almal ook die reeks op ’n vlaag van goeie spelpeil in die Indiese Premierliga (IPL).

“Daai ouens is nou al ’n geruime tyd in die Suid-Afrikaanse span en ons het al gereeld teen hulle gespeel in reekse en toernooie. Die IPL gee vir jou die kans om saam met ouens van ander lande te speel,” sê Buttler.

“In hedendaagse krieket is daar nie meer soveel verrassings met al die beeldmateriaal wat beskikbaar is nie, maar dis nietemin goed om nabye kontak met daardie spelers te ervaar in die IPL, om te probeer vasstel hoe hulle jou gaan hanteer.”

Dis nietemin goed om nabye kontak met daardie spelers te ervaar in die IPL, om te probeer vasstel hoe hulle jou gaan hanteer.
Jos Buttler

Die Engelse sal onmiddellik ’n bioborrel betree sodra hulle in die Kaap aanland, maar die spelers weet teen die tyd al wat om te verwag.

“Ons is nou al gewoond aan die borrel ná die reekse in Engeland en die IPL. Suid-Afrika is ’n wonderlike toer, maar ons sal dit ongelukkig nie soos gewoonlik kan geniet nie. Almal het wel vrede gemaak daarmee.

“Vir die meeste ouens is hul Xbox hoog op die prioriteitslys. Ook Netflix en om boeke te lees. Dit is belangrik om die selfvertroue te hê om daaroor te praat as jy nie oukei voel nie.

“Almal van ons sal op een of ander stadium die huis mis of engtevrees aanvoel omdat ons nie kan uitkom nie.”

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Ashley Giles  |  Jos Buttler  |  Suid-Afrika  |  Engeland  |  Toer  |  Krieket  |  Ksa  |  Ecb  |  Bioborrel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.