Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Joubert glo 3TC kan ‘toekoms’ wees

Daar word Donderdag ’n kleedrepetisie by SuperSportpark in Centurion gehou vir die Solidarity Cup-driespan-wedstryd, wat Saterdag daar plaasvind.

Die spanne vir die Solidarity Cup-driespanwedstryd.

Pierre Joubert, die waarnemende uitvoerende hoof van die Titans, het Maandag bevestig dié proeflopie word gehou om te sien hoe die nuwe formaat lyk en om in hierdie uitsonderlike tye van die Covid-19-pandemie te kyk hoe alles suksesvol toegepas kan word.

Dié voormalige veelsydige speler van die Titans glo driespan-krieket (3TC) kan ’n fantastiese formaat wees. Dié formaat word Saterdag deur 24 van Suid-Afrika se beste spelers aan die wêreld bekend gestel.

“Ek dink dit kan die toekoms van krieket wees. Veral vir skolekrieket kan dit baie goed werk,” sê hy.

Pierre Joubert, die waarnemende uitvoerende hoof van die Titans. Foto: Gallo Images

In 3TC speel drie spanne van agt spelers elk in een wedstryd van 36 boulbeurte, wat in twee helftes verdeel word. Joubert erken dit gaan iets baie vreemd wees, wat nog eers in die praktyk op die proef gestel moet word om die sukses daarvan te bepaal, “maar wat ek daarvan hoor en lees, klink dit baie opwindend en kan dit ’n belangrike nuwe hoofstuk in krieket wêreldwyd inlui,” sê hy.

Joubert sê SuperSportpark se buiteveld, wat weens die ryp in die wintertyd vaal lyk, sal vooraf groen geverf word om dit aanloklik en natuurlik op televisie te laat vertoon.

“Hierdie tyd van die jaar glo ek die blad sal maar aan die stadige kant wees. Ons stel meer belang in hoe vinnig die blad sal herstel ná hierdie naweek se krieket en dat dit hopelik gereed sal wees wanneer die plaaslike seisoen oor enkele maande moet begin.”

Volgens Joubert sal daar ongeveer 150 tot 200 mense betrokke wees by die dag. Geen geskrewe media sal in die mediasentrum toegelaat word nie.

Ek dink almal is net baie opgewonde om weer regstreekse krieket in Suid-Afrika te sien.

Daar sal wel ongeveer 50 mense per sone toegelaat word en daar sal vier sones in die stadion wees.

Dit wissel van die spelers en afrigters, tot televisie-personeel met SuperSport wat dit beeldsend, asook veiligheidspersoneel en diegene wat verantwoordelik is vir die verversings en etes vir spelers.

“Krieket Suid-Afrika (KSA) hanteer meeste van die dag se verrigtinge, maar ons is betrokke by van die veiligheid. Dit is wel ’n unieke situasie en een wat vreemd vir ons gaan wees, nie net wat die nuwe formaat op die veld betref nie, maar ook die eerste wedstryde wat sedert die inperking hier gespeel word,” sê hy.

“Finansieel gaan dit ook met die toetsing van spelers en om alles volgens die nuwe reëls gereed te kry en skoon te hou, ’n ekstra uitgawe wees.

“Al die spelers wat Saterdag in aksie gaan wees word eers weer getoets. Daar is ook ’n dag opsygesit vir net-oefeninge en dan die oefenwedstryd Donderdag.

“Vrydag sal die uitsaaier sy kameras oprig. Ek dink almal is net baie opgewonde om weer regstreekse krieket in Suid-Afrika te sien,” sê Joubert.

Die reëls van driespan-krieket.

KSA sê die spelers wat in die wedstryd in aksie sal wees, sal Dinsdag by SuperSport-park saamtrek, berig Tinus van Staden.

Die eerste oefensessie is Woensdag. Die drie spanne – Quinton de Kock se Kites, AB de Villiers se Eagles en Kagiso Rabada se Kingfishers – het oefenskedules waarin hulle in groepe verdeel is. Een groep sal byvoorbeeld veldwerk oefen, terwyl die ander in die nette is.

Die plaaslike spelers sal by hul huise bly, terwyl die res van die spelers in ’n hotel naby aan die stadion sal slaap.

Meer oor:  Pierre Joubert  |  Titans  |  Ksa  |  Krieket Suid-Afrika  |  3-Span-Krieket  |  3Tc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.