Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Onder vier oë
Jy aanbid vir Satan, hoor Jacques Faul

Jacques Faul, Krieket Suid-Afrika se waarnemende uitvoerende hoof, het regsadvies ingewin nadat hy die teiken geword het van ’n haatveldtog op sosiale media weens KSA se openbare steun aan die Black Lives Matter (BLM)-beweging.

Janneman Malan (met die kolf), Dwaine Pretorius (agter) en een van die skeidsregters kniel voor die Solidarity Cup-wedstryd in Centurion. Foto: Gallo

Die kniebuig-seremonie voor die onlangse 3TC-wedstryd in Centurion in solidariteit met die BLM-beweging, het tot groot onstuimigheid gelei en Faul voel hy word beswadder deur mense wat hom aanval. Faul self was nie by die wedstryd nie en het ook nie aan die kniebuig-aksie deelgeneem nie.

Faul sê prontuit hy steun rasseharmonie en ’n proses om mense en rasse te verenig. Hy sê ook dit is nodig dat swart mense plaasmoorde veroordeel.

’n Ou moet maar ’n dik vel hê as jy in sport is en ek is al 17 jaar lank ’n uitvoerende hoof. Maar dit is die eerste keer dat ek regsadvies moet kry omdat mense my beswadder.

Faul is veral ontsteld oor die inskrywings van ’n Facebook-gebruiker, skynbaar van Bethal, wat hom vir ’n satanis uitkryt.

In ’n openhartige gesprek die week met Rapport vertel Faul hoe hy en sy gesin op sosiale media aangeval is, en dat hy nou genoeg gehad het daarvan.

“ ’n Ou moet maar ’n dik vel hê as jy in sport is en ek is al 17 jaar lank ’n uitvoerende hoof. Maar dit is die eerste keer dat ek regsadvies moet kry omdat mense my beswadder. Dis mense wat valshede kwytraak,” sê hy.

“Dit is verskriklik hard op jou. Mense sê ek is ’n Marxis, ’n sosialis. Dan is daar diegene wat sê ek is nie teen plaasaanvalle gekant nie, en selfs dat ek ’n satanis is. Dit is vir my ongelooflik dat mense sulke afleidings kan maak, dit is baie sleg,” sê Faul, wat ná 15 September sal terugkeer na sy pos as die Titans se uitvoerende hoof.

“Ek het my ook baie duidelik teen plaasmoorde uitgespreek.

“Dit is iets wat baie naby aan my hart is. Ek het familie wat op plase woon en ek kom uit die ou Wes-Transvaal. Dit is vir my ongelooflik hartseer en wreed hoe boere op hul plase vermoor word.

As rasgroepe moet ons mekaar beter leer ken sodat ons mekaar beter kan verstaan. Ek dink daarom dit is ook nodig dat swart mense hulle moet uitspreek teen plaasmoorde.

“Ek het selfs die KSA-platform gebruik om myself daarteen uit te spreek.”

Mense moet begrip hê dat KSA ’n organisasie is wat alle Suid-Afrikaners bedien, sê hy.

“Dit is daarom vir my verskriklik hartseer om te ervaar hoe mense nou uitvaar, terwyl die steun aan BLM ’n poging was om mense en rassegroepe nader aan mekaar te bring.

Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof. Foto: Gallo

“As dit mense ontstel en kwaad gemaak het, was dit onbedoeld. Maar rassehaat is ontstellend. Wat bereik mense deur dit goed te praat?”

Hy sê die kommentaar van sommige mense op sosiale media is eenvoudig skokkend.

“Ek kry die spelers wat gespeel het (in die 3TC-wedstryd) verskriklik jammer. Al wat hulle probeer doen het, is om te wys ons ondersteun nierassigheid en ons spreek onsself uit teen diskriminasie. Mense heg nou ’n klomp ander goed daaraan, wat onsin is. Dit word opgeblaas en uit verband geruk.

“Hulle maak nou selfs asof die mense nie Christene is nie. Ons weet dit het nou ’n groot politieke speelbal geword en daar is mense wat dit uitbuit.”

Faul wil eerder sien dat mense nader aan mekaar beweeg as om nóg struikelblokke tussen rasse te skep.

“Ek wil net aan die mense wat al die rassehaat aanblaas, vra of hulle meen daar sal enigiets goeds van kom?

En onthou, rassisme kan teen wit mense ook wees, diskriminasie kan ook teen wit mense wees.

“Sport kan mense nader aan mekaar bring, maar hier verdeel ons mense.

“As rasgroepe moet ons mekaar beter leer ken sodat ons mekaar beter kan verstaan. Ek dink daarom dit is ook nodig dat swart mense hulle moet uitspreek teen plaasmoorde.

“Ons het egter daardie eerste treetjies na mekaar toe nodig, eerder as om ’n haatveldtog op Facebook te begin.”

Dit is tyd dat almal saamstaan teen rassisme.

“En onthou, rassisme kan teen wit mense ook wees, diskriminasie kan ook teen wit mense wees.

“Ek het baie begrip vir die frustrasie van die Afrikaners wat amper onwelkom voel in hul eie land, en dié goed gee hulle die geleentheid om hulle uit te spreek oor hul frustrasies.

“Ek het begrip daarvoor, ek kom uit daardie gemeenskappe. Jy weet nie waar jy inpas in die nuwe Suid-Afrika nie en dit lei tot ’n klomp frustrasies. BLM is ’n aksie wat hulle kan laat uitbars en skreeu en sê ons is gefrustreerd.”

Meer oor:  Krieket  |  Ksa  |  Black Lives Matter  |  Jacques Faul  |  Blm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.