Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Jy moet wag tot Makhaya Ntini waai’

Wag tot Ntini uittree, voordat jy jou kans kry.

Dié woorde van ’n nasionale afrigter spook nou nog by die voormalige Proteas-snelbouler Monde Zondeki.

Paul Adams (heel links), Makhaya Ntini en Monde Zondeki deel in 2003 in Birminghham ’n grappie tydens die Proteas se Engelse toer. Foto: Getty Images

Zondeki, wat die Proteas in ses toetse en 13 eendagstryde verteenwoordig het, meen hy het nooit ’n regverdige kans in die nasionale span gekry nie, al was hy op ’n tydstip een van Suid-Afrika se beste boulers.

Zondeki was Vrydagaand saam met sy voormalige Proteas-spanmaats JP Duminy en Robin Peterson en die Proteas se voormalige spanbestuurder dr. Mohammed Moosajee aan die woord op ’n webinaar oor rassisme in sport.

Krieket
Monde Zondeki

“Daar is gereeld vir my gesê dat ek moet wag tot Makhaya uittree voordat ek plek in die begin- elftal kon kry,” het Zondeki gesê.

“Dit het dit laat klink asof jy nie twee swart boulers op ’n slag in die span kon hê nie.

“Om dit by die afrigters te hoor, dat jy moet wag tot Makhaya uittree of weggelaat word voor jy kan speel, was uiters teleurstellend.

“Die kommunikasie tussen my en die mense in beheer was nie van die beste nie. Ek het soms koppe gestamp met hulle oor ons van mening verskil het.

“Daar was ook nooit terugvoer aan jou oor hoekom jy weggelaat is en nie gekies is vir dié toer of daai een nie. Die gevoel was dat ouens wat nie soos ek lyk nie, wat nie my velkleur is nie, meer geleenthede gegee is.

“Vir my het dit altyd gevoel of jy net daardie een geleentheid kry, en as jy dit nie benut nie, is jou kanse daarmee heen.”

My griewe is dat ek as ’n kwota-speler gedoop is en basies gesê is dat ek nie goed genoeg is om vir Suid-Afrika te speel nie.

Wat ook teleurstellend vir Zondeki is, is dat ’n afrigter eens op ’n tyd aan hom gesê het dat hy nou eers reg is om vir die Proteas te speel. Dit nadat hy reeds agt jaar as ’n professionele speler gespeel het.

“Hy het nooit geglo ek is goed genoeg nie, maar my statistiek en syfers het anders gesê. Die spoed waarteen ek geboul het ook.

“My griewe is dat ek as ’n kwota-speler gedoop is en basies gesê is dat ek nie goed genoeg is om vir Suid-Afrika te speel nie. Dat ek net daar is weens die kleur van my vel.

“Dit is dinge wat ek ervaar het, wat ek in die media gelees het en van sekere afrigters en mense langs die veld gehoor het. Ek het dit egter nie regstreeks van ander spelers ervaar nie.”

Robin Peterson

Dit was hartseer vir Robin Peterson, een van Suid-Afrika se suksesvolste veelsydige spelers, toe hy in ’n provinsiale wedstryd die k-woord toegesnou is.

“Ek is al ’n paar keer op krieketvelde in Suid-Afrika die k-woord deur spelers toegesnou,” het hy gesê.

“Dit het jare gelede gebeur toe ek begin het, in ’n provinsiale wedstryd. Ek gaan nie name noem nie. Natuurlik was ons toe nie so vol selfvertroue nie omdat ons die eerste generasie was wat soort van deurgekom het.

Daar was nie die selfvertroue om na die oppergesag te gaan en te kla nie.

“Die stelsel was toe ook nog in sy babaskoene.

Dit is soms in die mens se natuur om dinge net in jou agterkop te plaas. Jy staal jouself, jy rig mure op om jou.

“Toe ek begin speel het, was daar net twee spelers van kleur in ons span. Ek en Garnett Kruger. Ons was in die minderheid gewees. Almal anders was wit.

“Na wie toe gaan jy aan die einde van die dag? Daar was niemand nie. Ons kon dinge net met mekaar bespreek.

“Daar was nie protokolle in plek nie. Daar was ook nie eens sielkundige hulp om ons deur die proses te vat om aan dinge gewoond te raak nie.

“Maar as speler wil jy net die spel speel. Dit is soms in die mens se natuur om dinge net in jou agterkop te plaas. Jy staal jouself, jy rig mure op om jou.

“Jy het probeer om jou beste te doen om jou land te verteenwoordig.

“En daardie rassisme het jy gebruik as brandstof om jouself ’n beter speler te maak. Jy wys jy is nie net daar om die getalle vol te maak nie, maar jy is daar om te wen.

“Ons het dit probeer verander in iets positief, maar mettertyd begin dit aan jou vreet, aan jou psige en selfvertroue as ’n mens.

“Uiteindelik besef jy jy moet ’n mens wees as jy klaar gespeel is. En jy weet nie presies hoe dié dinge jou persoonlike lewe geraak het nie.”

Dr. Mohammed Moosajee

Dit was vir hom in 2003 ’n ontnugtering om uit te vind dat sekere spelers nie wou hê hy moet hulle behandel nie, onthou dr. Moosajee.

“Hulle was ongemaklik dat ’n sogenaamde nie-wit spandokter hulle moet behandel,” sê dr. Moosajee.

“Dit was snaaks, want aanvanklik het dit my glad nie gepla nie. Hulle moes gewoond raak daaraan dat ’n persoon van kleur in die omtrek is. En hulle het geen keuse gehad om daardie vertroue te ontwikkel nie.

“Daar is ook geen twyfel dat spelers van kleur soveel harder moes werk as wit spelers in die Proteas-span nie.

“Toe ek in 2008 as spanbestuurder aangestel is, was daardie bevooroordeling steeds daar.

JP Duminy het op 20-jarige ouderdom op sy eerste toer saam met die Proteas reeds gesien hoe versplinter die nasionale span as ’n groep is.

Hy het sy eendagdebuut toe in 2004 as ’n jongeling gemaak, maar het toe reeds besef jy moet hier jou groepie soek waar jy inpas.

“My ervaring op daardie toer het my oë oopgemaak,” het Duminy gesê.

JP Duminy
Dalk het dit (rassisme) met my gebeur, maar ek het verkies om net die goed te sien.

“Net om te sien hoe gefragmenteer die span is. Ten opsigte van die groepies wat daar was. Dit was ’n ware ontnugtering vir my.

“My persoonlikheid was egter van so ’n aard dat ek oop gesprekke sou hê. Ek sou met mense gesels, ongeag jou ras.”

Duminy, wat in 46 toetse en 199 eendagwedstryde vir die Proteas gespeel het, erken dat hy meer kon gedoen het om die rassisme wat van sy spanmaats op die krieketveld ervaar het, nek om te draai, al was dit nie met hom die geval nie.

“Dit het nie met my gebeur nie of weens my persoonlikheid het ek dit dalk nie raakgesien nie, maar ek kon sien hoe dit van my spanmaats geraak het.

“My persoonlikheid is van so ’n aard dat ek altyd die goed in mense sien.

“Jy moet my erg fisiek of geestelik leed aandoen voordat ek jou sal uitsluit.

“Dalk het dit (rassisme) met my gebeur, maar ek het verkies om net die goed te sien.

“Ek het gesien die dinge gebeur voor my, nie noodwendig met my nie. Maar dis waarvoor ek verantwoordelikheid wil neem.”

Meer oor:  Robin Pegterson  |  Krieket  |  Rassisme  |  Proteas  |  Monde Zondeki  |  Jp Duminy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.