Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KA loof spelers se gedrag ná balpeutery

Australiese krieketspelers se eens berugte gedrag het met rasse skrede verbeter in die nadraai van pogings om die spel se kultuur te hervorm weens die balpeuterskandaal, sê Krieket Australië (KA).

KA klop homself op die skouer vir sy spelers se verbeterde gedrag. Foto: Getty Images

Volgens Earl Eddings, KA-voorsitter, het die nasionale manspan in die 2018-’19-seisoen vir die eerste keer in sewe jaar nie ’n enkele gedragskodeoortreding gehad nie. Boonop het gedragskodeoortredings op alle vlakke met 74% gedaal.

“Almal in Australiese krieket is deeglik bewus daarvan dat oorwinnings nie al is wat tel nie, maar dat hoe ons die spel speel belangrik is. Die spelers het daardie filosofie daadwerklik aangegryp,” sê Eddings.

“Skeidsregters se terugvoering is ook positief en hulle sê die spelers gun hulle meer respek.”

KA se poging om die swak beeld van krieket in Australië te herstel volg op die “Sandpapergate”-skandaal in ’n toets teen Suid-Afrika in Kaapstad in Maart 2018. Die nagevolge het die spel tot in sy fondamente geskud, met drie topspelers wat lang skorsings ontvang het, die nasionale afrigter wat bedank het en verskeie KA-beamptes wat die beheerliggaam verlaat het.

’n Onafhanklike oorsig wat KA aangevra het, was krities oor krieket se “arrogante” kultuur en het spelers én beamptes gekap vir hul beheptheid daarmee om te wen – ten koste van morele standaarde en die gees van die spel.

Eddings sê lesse is geleer en veranderinge word deurgevoer.

“Hoewel daar altyd plek vir verbetering is, is dit baie goeie tekens wat betekenisvolle verandering aantoon. Dit sal ’n positiewe, langdurige impak op Australiese krieket op alle vlakke hê,” sê hy.

Die Australiese Krieketspelersvereniging (ACA) is ook vol lof vir die wyse waarop spelers saamwerk om ’n verandering aan die kultuur teweeg te bring.

“Die spelers, op alle vlakke, verstaan hul rol as ambassadeurs om die sport te help groei en moet gelukgewens word met hul gedrag op en van die veld,” sê Greg Dyer, president van die ACA.

– SuperSport

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.