Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kaartspel laat idee vir 3-span-krieket posvat

Krieket se nuutste formaat, driespan-krieket, is uit ’n kaartspel gebore.

Dié nuwe formaat is die geesteskind van Paul Harris, die miljoenêr en voormalige grootbaas van FirstRand.

Paul Harris, ’n voormalige grootbaas van FirstRand. 3TeamCricket is sy geesteskind. Foto: Forbes

“Ek het saam met my familie kaart gespeel en ons was in drie spanne verdeel. Ek sê toe: ‘Wat van krieket?’,” het Harris verlede week op ’n digitale bekendstelling van die driespan-krieket gesê.

Harris is ook ’n voormalige raadslid van Krieket Suid-Afrika (KSA).

Driespan-krieket sou Saterdag vir die eerste keer gespeel word, in die Solidarity Cup-wedstryd, waarin 24 van Suid-Afrika se voorste spelers tot die speelveld sou terugkeer. Dié wedstryd, wat vir Centurion beplan is, is die naweek uitgestel omdat KSA nog nie die nodige goedkeuring van die regering kon verkry vir sy protokolplanne vir ’n terugkeer tot die oefen- en speelveld nie.

Die plan is steeds dat krieket met die Solidarity Cup-driespan-wedstryd terugkeer, maar nou net op ’n latere datum. Die krieketwêreld se oë sal dan vierkant op Suid-Afrika gerig wees, om te sien hoe dié unieke nuwe weergawe van die spel in aksie lyk.

“Ek het nog altyd belanggestel in hoe jy die spel ontwikkel. Hoe kry jy spanne wat dalk nie so mededingend is nie, op gelyke voet met sterker spanne?” vra Harris.

“Hoe help jy klubs en skole wat nie al die geriewe het nie, om op die hoogste vlak mee te ding? Dit was die einde van die kaartspel.”

Daarna het Harris “ure en ure” daaraan bestee om die fynere besonderhede uit te werk. Hy het uitgereik na krieketmense soos Mark Nicholas, Graeme Smith en Mark Boucher, onder vele andere, om die formaat verder te konseptualiseer.

“Dit gaan daaroor om meer mense betrokke te kry. In die kaartspel was my dogter en vrou besig, toe vra ek wat van my, hoekom kan ek nie ook speel nie? Dis hoe dit begin het, so eenvoudig soos dit.”

Die spanne vir die Solidarity Cup-wedstryd, wat intussen uitgestel is.

Driespan-krieket het twee formate – ’n 36-boulbeurt-formaat en ’n 90-boulbeurt-formaat. Die Solidarity Cup-wedstryd sal oor 36 boulbeurte beslis word.

Die wedstryd word in twee helftes van 18 beurte opgedeel, waarin elk van die drie spanne vir ses beurte kolf. Elke span kolf dan weer vir ses beurte in die volgende helfte.

In dié formaat bestaan elke span uit agt spelers, en in die 90-boulbeurt-formaat het elke span 11 spelers.

“Die plan is om die driespan-krieket te groei, om dit dalk in skole bekend te stel, om moontlik die langer formaat bekend te stel,” sê Smith, wat ook KSA se direkteur van krieket is.

Nicholas, ’n voormalige Engelse eersterangse speler en deesdae kommentator en skrywer, sê die formaat het dit ten doel om die spel te laat groei.

“Ons dink drie-span-krieket kan lewe in eendagkrieket blaas. Ons doen nog navorsing oor ’n multispan-formaat, dan kan daar vier of vyf spanne wees, dit hoef nie net drie spanne te wees nie,” sê Nicholas, ’n aandeelhouer en medestigter van driespan-krieket, oftewel 3TeamCricket.

“Ons sal in die volgende paar maande hard werk aan ons toekomsplanne. Dit gaan nie daaroor dat ons nog ’n formaat nodig het nie, maar dit kan dalk die volgende geslag dalk inspireer.

“Niemand wat agtman-driespan-krieket speel, sal die aksie misloop nie.”

Francois Pienaar, ’n voormalige Springbok-kaptein, is die uitvoerende hoof van 3TeamCricket.

Meer oor:  Solidarity Cup  |  Krieket  |  3-Span-Krieket  |  Paul Harris
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.