Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kallis help Proteas voor tweede toets
Jacques Kallis (links) het Sondag by die Proteas se oefening op Nuweland ingeloer. Hier is hy saam met Russell Domingo, Suid-Afrika se hoofafrigter.Foto: Gallo Images

Keshav Maharaj se indrukwekkende begin tot toetskrieket het gehelp om een van die kopsere rakende die samestelling van die Proteas te verlig.

Dié linksdraaier het tot dusver 3 toetse vir Suid-Afrika gespeel en ’n beduidende bydrae gelewer. Hy het nie net paaltjies op belangrike tye geneem nie, maar sy vermoë om ’n klomp boulbeurte ekonomies af te stuur, het sy kaptein, Faf du Plessis, met veel meer opsies gelaat.

Russell Domingo, die Proteas se breier, het Sondag, ’n dag voor die begin van die tweede toets teen Sri Lanka op Nuweland in Kaapstad, nog ’n bonus uitgelig: Hy vergoed vir die afwesigheid van ’n veelsydige speler.

Suid-Afrika was tydens die amper 18 jaar wat Jacques Kallis vir die Proteas gespeel het bederf met die luuksheid van vyf boulers. Sedert Kallis se uittrede in 2014, kon die span meestal net vier voorslagboulers kies met die hoop dat JP Duminy ook ’n paar beurte sou afstuur.

“Ek voel altyd dat die kolwers Kallis se lopies op ’n manier kan bymekaar skraap. Dit is egter die 15 boulbeurte wat hy in ’n dag vir jou geboul het, wat jy nie maklik kan vervang nie. Dis hoekom hy só waardevol was,” het Domingo gesê.

“Die afwesigheid van ’n veelsydige speler soos Kallis beteken egter dat die draaier nou ’n groter las moet dra. In die verlede het die draaiers minder geboul omdat Kallis só effektief met die bal was. Nou moet die draaier, wat in die verlede dalk 10 boulbeurte moes boul, 25 afstuur.

“Die een se dood, is die ander se brood.”

“Gelukkig het Keshav gewys dat ons op hom kan vertrou om die groter verantwoordelikheid op sy skouers te neem,” het Domingo gesê.

Kallis het Sondag die Proteas tydens die oefening besoek. Die legendariese veelsydige speler het die Proteas se spanvergadering voor hul oefening bygewoon en toe ook ’n paar spelers met raad bedien by die nette.

“Nee, hy is nie formeel betrokke by die span nie, maar hy is Suid-Afrika se beste speler van alle tye en daar is altyd iets wat jy by sulke spelers kan leer,” het Domingo gesê.

Kagiso Rabada oefen sy vangwerk op Nuweland. Die Proteas se spanbestuur is nie bekommerd dat hy ’n te groot werklas het nie.Foto: Gallo Images

Domingo het bevestig dat die Proteas ’n onveranderde span gaan kies.

Hy het gesê daar was nie ’n versoeking om Kagiso Rabada te laat rus in die komende toets nie.

“Ons sal miskien oorweeg om hom vir ’n gedeelte van die eendagreeks te laat rus, maar ons beleid is om ons sterkste moontlike span in die toetse te kies,” het die breier gesê.

Die Wes-Indiese legende Michael Holding het tydens die eerste toets op TV gesê dat hy bekommerd is oor Rabada se werklas en dat hy te veel boulbeurte op sy ouderdom boul.

Domingo het egter gesê dat hulle hom net reg moet bestuur en seker maak dat hy nie ooreis word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.