Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kallis is koning . . . maar Garry ook

Garry Sobers of Jacques Kallis? Krieketliefhebbers debatteer alewig oor wie tussen dié twee legendes as die beste veelsydige speler nóg gesien kan word. Maar hoe vergelyk ’n mens twee spelers met ’n hele generasie tussen hulle, vra Tinus van Staden na aanleiding van ’n onlangse IKR-peiling.

Jacques Kallis vier sy 45ste en laaste toetshonderdtal vir Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Jacques Kallis se toetsloopbaan het 21 jaar ná Garry Sobers se laaste toets begin, maar dié twee krieketlegendes sal dalk vir altyd in ’n tweestryd gewikkel wees.

Onder krieketliefhebbers is Kallis en Sobers die enigste twee ware aanspraakmakers wat as die “Goat” (Greatest of All Time) van veelsydige spelers gereken kan word. En die statistieke bewys dit ís ’n tweeperd-wedren.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) het vandeesweek op Twitter vir sy 10 miljoen volgelinge gevra om te stem vir die “Goat”. Koning Kallis het gewen, maar is dit die einde van die storie? Nie volgens twee voormalige Suid-Afrikaanse veelsydige spelers nie.

Mike Procter, wat teen en saam met Sobers gespeel het, sê hy was ’n wedstrydwenner sonder weerga. Omar Henry, wat drie toetse vir Suid-Afrika gespeel het, beaam Procter se woorde en voeg by dat die Barbadaan Sobers “ligjare voor sy tyd” was.

“Kallis se vertoningslys op papier en sy langdurigheid sê hy is die beste veelsydige speler in die wêreld. Maar ek het saam met sir Garry gespeel en hy was ’n wedstrydwenner,” sê Procter, wat in die 1960’s en ’70’s vir Gloucestershire teen Sobers se Nottinghamshire in Engelse graafskapkrieket gespeel het.

Kallis het tussen 1995 en 2013 in 166 toetse gespeel en is op drie na die voorste toetslopiemaker nóg (13 289 lopies teen 55.37, met 45 100-talle en 58 50-talle). Hy het boonop 292 paaltjies teen ’n gemiddeld van 32.65 platgetrek.

Garry Sobers
23.7 Garry Sobers
Jacques Kallis
22.7 Jacques Kallis
Imran Khan
14.8 Imran Khan

Sobers, wat die Wes-Indiese Eilande tussen 1954 en 1974 in 93 toetse verteenwoordig het, het 8 032 lopies teen 57.78 aangeteken (26 100-talle, 30 50-talle) en 235 paaltjies teen 34.03 platgetrek.

Procter het in 1970 in vyf nie-amptelike “toetse” saam met Sobers teen Engeland gespeel. ’n Sterk “Res van die Wêreld”-span het, met Suid-Afrikaners soos Procter, Eddie Barlow, Graeme Pollock en Barry Richards in sy geledere, in Engeland gaan toer nadat die Engelse toer na Suid-Afrika weens die Basil D’Oliveira-voorval afgelas is.

“Garry was die kaptein. In die eerste ‘toets’ het Engeland die loot gewen, eerste gekolf en is vir 127 uitgeboul,” onthou Procter.

“Garry het ses paaltjies vir 21 lopies in 20 boulbeurte platgetrek, ’n blitsige 183 geslaan en in Engeland se tweede beurt twee paaltjies gekry deur draaiballe te boul. En dit was ’n goeie Engelse span, hulle het later daardie jaar Australië toe getoer en die reeks om die As gewen.”

Procter sê Sobers was oorheersend en Kallis nie altyd nie.

“Ek het self vir Jacques gesê hy het nooit regtig sy lopies aangeteken teen die tempo wat hy kon nie. Miskien moes hy so kolf.

“Jacques was met tye in ’n posisie waar hy Suid-Afrika uit die moeilikheid moes kry, waar hy die anker moes wees.

“As jy vir my vra wie sal ek kies om ’n toets te wen, Garry of Jacques, dan kies ek vir Garry. Jacques het net nie oorheers soos wat hy kon nie en kon dalk selfs nog meer paaltjies gevat het. Maar ons praat oor die twee bestes van alle tye, so ek probeer hom nie beledig nie.”

Sobers was die eerste speler wat ses sesse in ’n boulbeurt in eersterangse krieket geslaan het. Hy was ’n briljante linkshandige snelbouler (Procter vergelyk hom met die legendariese Pakistani Wasim Akram), maar hy kon ook linkshandige draaiballe boul – ortodoks én gewrigsdraaiers.

Dít alles verstom Henry.

“Sobers was ’n atleet. Wat by hom uitstaan met die bal, is dat hy die bal kon swaai en vinnig boul met die nuwe bal, maar met die ou bal kon hy draaiers boul. Jy wil amper sê hy was veel-veelsydig,” sê Henry.

“Toe ek begin krieket speel, het ek verstaan dat as jy veelsydig is, kan jy taamlik goed boul en kolf en veldwerk doen. Dis waar die bus vir my gestop het.

“As jy dan vir Sobers gesien het, sê jy: ‘Maar hou vas! Hier kom die ou en hy boul nog draaiballe ook. Wié is hierdie ou?’

“Hy was ligjare voor sy tyd. Hoe lank nadat hy gespeel het, het T20-krieket eers gekom? Dan kyk jy hoe aanvallend was hy toe hy gespeel het.”

Henry, ook ’n voormalige keurbaas van Krieket SA, sê Kallis “staan kop en skouers bo talle veelsydige spelers uit.

“Dit is ’n fenomenale rekord wat hy het, maar hy moes aanpas vir eendag- en T20-krieket. Hy het eintlik later in sy loopbaan eers begin om die bal luglangs verby halfweg en halfby te slaan, of bo-oor die dekke.

“Gemeet as ’n natuurlike speler, dan sal ek Sobers kies, omdat hy meer pyle in sy koker gehad het. Maar hulle albei was fenomenale veelsydige spelers.”

Sobers is die veelsydige speler met die beste gemiddeld-verskil (die verskil tussen ’n speler se kolf- en boulgemiddeld) nóg vir spelers met meer as 100 toetspaaltjies en 3 000 toetslopies. Sobers se gemiddeld-verskil, wat ’n goeie maatstaf vir veelsydigheid is, is 23.74. ’n Kortkop agter hom op dié lys is Kallis met 22.71.

Pakistan se Imran Khan is derde met 14.88, gevolg deur Shaun Pollock (9.19) en Bangladesj se Shakib Al Hasan (8.27). Ander groot veelsydige spelers, soos Ian Botham (5.14), Richard Hadlee (4.86), Ben Stokes (3.86), Kapil Dev (1.40) en Andrew Flintoff (-1.01) se name verskyn ook hoog op die lys.

Maar hulle is nie op die vlak van Sobers en Kallis nie.

“Ek het nooit vir Garry Sobers sien speel buiten vir ’n paar video’s van lae gehalte nie, maar as hy beter as Kallis is, moes hy een helse krieketspeler gewees het,” het die voormalige Indiese kaptein Rahul Dravid een keer oor die debat gesê.

En hoe bepaal jy werklik wie is die beste tussen twee spelers wat ’n generasie uit mekaar verwyder is? Twee spelers met verskillende uitdagings, omgewings en eise? Dalk moet ’n mens nie kies nie, dalk moet hulle liewer as die gesamentlike “Goat” bekroon word.

Jacques Kallis
Jacques Kallis
Garry Sobers
Garry Sobers
Carl Hooper
Carl Hooper
Kapil Dev
Kapil Dev
Ian Botham
Ian Botham
Daniel Vettori
Daniel Vettori
Ben Stokes
Ben Stokes
Shakib Al Hasan
Shakib Al Hasan
Kallis se lopietotaal troon uit onder veelsydiges

Jacques Kallis is die enigste speler in die geskiedenis van toetskrieket wat meer as 10 000 lopies kon aanteken én meer as 100 paaltjies kon plattrek. Kyk hoe ver hy voor die ander lede van die 100-paaltjie-klub is in terme van lopies aangeteken. (G = gemiddeld)

  • 13 298
    Jacques Kallis (Suid-Afrika)
    G = 55.37
  • 8 032
    Garry Sobers (Windies)
    G = 57.78
  • 5 762
    Carl Hooper (Windies)
    G = 36.46
  • 5 248
    Kapil Dev (Indië)
    G = 31.05
  • 5 200
    Ian Botham (Engeland)
    G = 33.54
  • 4 531
    Daniel Vettori (Nieu-Seeland)
    G = 30.00
  • 4 056
    Ben Stokes (Engeland)
    G = 36.54
  • 3 862
    Shakib Al Hasan (Bangladesj)
    G = 39.40


Meer oor:  Krieket  |  Garry Sobers  |  Ikr  |  Veelsydige Speler  |  Jacques Kallis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.