Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Wie kan Aussies in T20-WB vir vroue stuit?

Australië se vrouekrieketspan sal ’n vyfde titel in die visier hê wanneer die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) Vrydag in sy agterplaas begin.

Sedert die eerste toernooi in 2009 in Engeland beslis is, het die Aussies net twee keer, in 2009 en in 2016, nie die wennerstrofee verower nie.

Dané van Niekerk speel Dinsdag ’n omgekeerde veeghou teen Australië. Foto: Getty Images

Tien spanne neem in vanjaar se toernooi in twee groepe deel, met slegs die boonste twee spanne in elke groep wat deurdring tot die uitkloprondes. Australië bevind hom saam met Indië, Nieu-Seeland, Sri Lanka en Bangladesj in Groep A.

Suid-Afrika is in Groep B saam met Engeland, die Wes-Indiese Eilande, Pakistan en Thailand.

Op papier spog die Proteas met ’n gedugte groep spelers, soos die kaptein, Dané van Niekerk, Marizanne Kapp, Suné Luus en Lizelle Lee. Iemand soos Lee kan die gang van ’n wedstryd met haar kolf bepaal, terwyl Luus met die kolf én bal gevaarlik is.

Maar Lee is maar net een van die Suid-Afrikaanse spelers wie se spelpeil die laaste tyd ’n bron van kommer is. Sy het in haar laaste ses T20-kolfbeurte tellings van 17, 2, 18, 25, 0 en 29 aangeteken.

Sy is beslis tot beter in staat. In die Big Bash-liga in Australië verlede jaar het sy 475 lopies, die vyfde meeste, in 14 kolfbeurte aangeteken, wat ’n honderdtal en vier vyftigtalle ingesluit het.

Aan ervaring onder die Suid-Afrikaners is daar geen tekort nie. Die 26-jarige Van Niekerk tree vir haar sewende WB-toernooi in dié formaat aan. Sy het haar buiging in 2009 in Taunton, Engeland, gemaak.

Ons het spelers van wêreldgehalte in ons span, spelers wat wedstryde kan wen en dit is tyd dat ons opstaan en die uitdaging omhels.
Dané van Niekerk

Die Proteas het die laaste tyd maar effentjies vertoon. Die Suid-Afrikaners het vroeër die maand met 1-3 in ’n reeks teen Nieu-Seeland vasgeval.

Daarna het hulle hul oefenwedstryd teen Sri Lanka gewen, maar Dinsdag met vier paaltjies teen Australië verloor.

Van Niekerk sê hulle is ondanks die nederlaag vol vertroue.

“Om teen die wêreld se voorste span (Australië) te staan te kom en so naby aan ’n oorwinning te kom, wys dat ons in die regte rigting beweeg.

“Ons het spelers van wêreldgehalte in ons span, spelers wat wedstryde kan wen en dit is tyd dat ons opstaan en die uitdaging omhels. Dit is tyd dat ons ons merk maak in toernooie van die Internasionale Krieketraad,” sê Van Niekerk.

Suid-Afrika se eerste wedstryd in die toernooi is Sondag teen Engeland. Die Engelse was in 2018 vir ’n derde keer ’n finalis.

Die enigste keer wat die Proteas die halfeindronde kon haal, in 2014, was dit die einste Engeland wat Suid-Afrika se aanspraak beëindig het.

Engeland sal self ietwat bekommerd wees oor sy spelpeil nadat hy Dinsdag teen die verwagting in sy opwarmstryd met 10 paaltjies teen Sri Lanka verloor het.

Suid-Afrika het Sri Lanka Sondag met 41 lopies geklop.

Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Engeland  |  Protea-Vrouekrieketspan  |  T20-Wêreldbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.