
Bruce Fordyce, die eertydse koning van die Comrades. Foto: Gallo Images
’n Legende van Suid-Afrikaanse padwedlope, Bruce Fordyce, sal hopelik vandeesweek ’n gelukbringer vir die Protea-krieketspan wees wanneer hy poog om die toetsreeks teen Engeland op die Wanderers te red.
Imperial, wat die Wanderers se naamregte besit, het Woensdag in ’n verklaring gesê Fordyce sal Vrydag kort voor 10:00 die klok lui om spel amptelik in die vierde en laaste toets in dié stadion in Johannesburg te laat begin.
Fordyce is veral beroemd vir sy jare lange oorheersing in die Comrades-ultramarathon, wat hy nege keer gewen het. Hiervan was agt opeenvolgende seges.
Hy het ook oorsee uitgeblink en benewens ’n wêreldtitel in die 100 km die Londen na Brighton-marathon drie keer gewen.
Engeland ruk met ’n voorsprong van 2-1 op na Johannesburg en is ná sy oorheersende vertonings in die afgelope twee toetse die oorweldigende gunsteling om die reeks teen die Proteas te beklink.
– Sportredaksie