Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kan Magala dié keer fiksheids-toets slaag?
Sisanda Magala was een van die beste boulers tydens die plaaslike T20-reeks. Foto: Gallo Images

Die Protea-keurders sal hoop dat Sisanda Magala dié keer sy fiksheidstoets kan slaag sodat hulle die talentvolle bouler in die witbalreekse teen Pakistan kan inspan.

Magala is Donderdag by die Proteas se witbalgroepe ingesluit vir dié reekse, wat op 2 April begin.

Hy het vroeër vandeesmaand in die plaaslike T20-reeks in Durban die meeste paaltjies platgetrek en word al lank vir nasionale kleure geoormerk. Hy is al voorheen by Protea-groepe ingesluit, maar kon nog nie sy buiging maak nie omdat hy nie die finale fiksheidstoetse geslaag het nie.

Volgens ’n Protea-woordvoerder is daar aanstaande Vrydag weer ’n fiksheidstoets wat die spelers sal moet slaag.

Magala is veral in die doodsnikbeurte kookwater en hy is ’n hoogs vaardige bouler. Hy kan ook die wilgerlat inlê en die grenstou met gemak oorsteek.

Wihan Lubbe is vir die eerste keer by ’n Protea-groep ingesluit. Foto: Gallo Images

Benewens Magala het die Protea-keurders ’n rits ander groentjies ingesluit by die groepe vir die reekse van drie eendagwedstryde en vier T20-wedstryde.

Die Titans-snelbouler Lizaad Williams is by die eendag- én T20-groep ingesluit, terwyl die kanonkolwer van die Warriors, Wihan Lubbe, en die Knights se veelsydige naatbouler Migael Pretorius by die T20-groep ingesluit is. Kyle Verreynne is ook vir die eerste keer in ’n nasionale T20-groep gekies.

Die Proteas Aiden Markram en Wiaan Mulder maak albei ’n terugkeer tot die nasionale eendagspan.

Victor Mpitsang, die sameroeper van die keurkomitee, het vir Temba Bavuma, die nuwe witbalkaptein, sterkte toegewens met sy eerste sending as kaptein.

Hy sê die T20-groep is ’n goeie aanduiding van die diepte van talent wat daar in Suid-Afrika is, aangesien sekere senior spelers soos Quinton de Kock, David Miller, Kagiso Rabada en Anrich Nortjé dié reeks weens verpligtinge in die Indiese Premierliga (IPL) gaan misloop.

“Ons het ’n massiewe 18 maande van T20-krieket wat voorlê, met twee T20-Wêreldbeker-toernooie in die vooruitsig,” sê Mpitsang.

Ons het ’n massiewe 18 maande van T20-krieket wat voorlê, met twee T20-Wêreldbeker-toernooie in die vooruitsig.
Victor Mpitsang

“Die plaaslike T20-reeks het gewys watter gehalte spelers ons in die stelsel het. Dit is ’n goeie probleem om te hê en ons is vol vertroue dat die groep die regte vrae aan die besoekers sal kan vra en die land trots sal kan maak.”

Dit is interessant dat Andile Phehlukwayo slegs by die eendaggroep ingesluit is en nie by die T20-groep nie. Keshav Maharaj, wat skitterend geboul het in die plaaslike T20-reeks, is ook slegs in die eendaggroep en nie die T20-groep nie.

Die groepe is:

Eendaggroep: Temba Bavuma (k), Quinton de Kock, Beuran Hendricks, Heinrich Klaasen, Janneman Malan, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Jon-Jon Smuts, Rassie van der Dussen, Junior Dala, Lutho Sipamla, Wiaan Mulder, Sisanda Magala, Kyle Verreynne, Daryn Dupavillon, Lizaad Williams.

T20-groep: Temba Bavuma (k), Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, George Linde, Rassie van der Dussen, Janneman Malan, Sisanda Magala, Dwaine Pretorius, Tabraiz Shamsi, Lutho Sipamla, Kyle Verreynne, Pite van Biljon, Migael Pretorius, Lizaad Williams, Wihan Lubbe.


Die bepalings is:

Vrydag, 2 April, 1ste eendagwedstryd

Sondag, 4 April, 2de eendagwedstryd

Woensdag, 7 April, 3de eendagwedstryd

Saterdag, 10 April, 1ste T20-wedstryd

Maandag, 12 April, 2de T20-wedstryd

Woensdag, 14 April, 3de T20-wedstryd

Vrydag, 16 April, 4de T20-wedstryd.


Meer oor:  Kyle Verreynne  |  Sisanda Magala  |  Suid-Afrika  |  Pakistan  |  Krieket  |  Proteas  |  Ksa  |  T20  |  Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.