Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kan Protea-vroue Indiese draaiers tem?

Wanneer die Protea-vrouekrieketspan die naweek teen Indië op die subkontinent te staan kom, sal Suné Luus-hulle hoop om nie in dieselfde slaggate as in 2019 te trap nie.

Suné Luus, die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan se waarnemende kaptein, sal van voor moet lei op die subkontinent. Foto: Getty Images

Suid-Afrika en Indië is Sondag in die eerste van vyf eendagwedstryde slaags, waarna ’n reeks van drie T20’s ook sal volg.

Luus sal weer die span aanvoer, met die gereelde kaptein, Dané van Niekerk, wat weens ’n besering tuisbly. Die 25-jarige Luus was ook die kaptein in 2019 toe die Indiërs die eendagreeks met 3-0 en die T20-reeks met 3-1 gewen het.

Die genoemde slaggate verwys na die Indiese draaibalboulers soos Deepti Sharma, Poonam Yadav en Ekta Bisht, wat die Suid-Afrikaanse kolwers ’n paar kopsere besorg het.

Luus het in ’n verklaring van Krieket Suid-Afrika erken sy en haar spanmaats is nie heeltemal seker wat om te verwag nie.

Waar die Proteas onlangs in tuisreekse teen Pakistan in aksie was, sal dit Indië se eerste internasionale wedstryde in ’n jaar wees.

Suné Luus en haar spanmaats sal na die sterre mik in Indië. Foto: Gallo Images
Laura Wolvaardt is een van die Protea-kolwers wat al tevore gewys het dat sy lopies op die subkontinent kan aanteken. Foto: Getty Images

“Dit is altyd moeilik in Indië en dit gaan beslis weer die geval wees. Ons teenstander beskik oor baie mededingende spelers. Ons weet dat spelers soos Mithali Raj en Harmanpreet Kaur van topgehalte is,” sê Luus.

“Uit die aard van die saak is ons in Indië en verwag ons dus dat die bal sal draai, maar gelukkig is ons goed voorbereid daarvoor. Die vroue (Luus se spanmaats) is net so opgewonde en gereed om hul planne uit te voer en na die beste van hul vermoë te speel.”

Dat Indië ’n uitdaging soos min aan die Proteas gaan stel, is gewis. Die Indiërs is tweede op die Internasionale Krieketraad se ranglys in eendagkrieket, met Suid-Afrika in die vierde plek.

Wat T20’s betref, is Indië derde en die Proteas in die vyfde plek.

Wat wel in Luus-hulle se guns kan tel, is dat hulle selfs sonder Van Niekerk en nog ’n beseerde, Chloe Tryon, oor ’n ervare en gevestigde groep spelers beskik. Daar sal dus nie sprake daarvan wees dat hulle grootoog oor die taak op hande is nie.

Boonop het spelers soos Luus, Lizelle Lee, Laura Wolvaardt, Mignon du Preez en Marizanne Kapp tevore gewys dat hulle wel lopies op die subkontinent kan aanteken.

Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Eendagreeks  |  Proteas  |  Protea-Vrouekrieketspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.