Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kapp: ‘Ons veldwerk was skokkend’

Dit voel effens verkeerd om ’n span te kritiseer wat pas ’n reeksoorwinning behaal het, maar selfs die Protea-vrouekrieketspan se Marizanne Kapp het mond uitgespoel oor die nasionale span se slordige veldwerk.

Maar gee eers krediet waar dit toekom.

Die Protea Lara Goodall doen veldwerk tydens Saterdag se kragmeting in Durban. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika, met Kapp aan die spits, het Pakistan Saterdag in Durban in die tweede eendagwedstryd met 13 lopies geklop. Daarmee het die Proteas, wat die eerste kragmeting ook gewen het, die reeks van drie beklink.

Die tuisspan het 252/7 in 50 boulbeurte aangeteken, met Kapp (68*, 45 b), Lizelle Lee (47), Suné Luus (32) en Laura Wolvaardt (27) wat almal goeie bydraes met die kolf gelewer het.

Daarna is die Pakistani’s beperk tot 239/8 in 50 boulbeurte. Ook met die bal het Kapp (3/44 in 10) uitgeblink, met Ayabonga Khaka (4/40 in 10) die groot ster.

Dit was skokkend en nie op standaard nie.
Marizanne Kapp

Maar hier teen die einde van Pakistan se kolfbeurt was daar ’n paar benoude oomblikke met die Proteas wat twee vangskote verbrou het. Dit terwyl Aliya Riaz (81) en Nida Dar (51) die Asiërs tot op die randjie van ’n sege gekolf het.

“As ek eerlik moet wees . . .? Dit was skokkend en nie op standaard nie. Dit het vir my gevoel asof ons aan die slaap geraak het halfpad deur die wedstryd – of dit is minstens hoe dit op die veld gevoel het. Dit is nie goed genoeg nie,” het Kapp ná die tyd geantwoord op die vraag oor die Proteas se vertoning in die veld.

“Uit die aard van die saak is dit iets waarop ons moet verbeter. Ons het gesien hoe goed hulle (Pakistan) teen die einde met die kolf was. Om sulke vangskote te verbrou kan jou die wedstryd kos.”

Marizanne Kapp in ’n gemoedelike bui ná Saterdag se kragmeting in Durban. Foto: Gallo Images

Buiten die veldwerk wat nie van gehalte was nie, het dit met Pakistan op 73/5 in die 18de boulbeurt gelyk asof die Proteas reeds gedink het dat hulle klaar gewen het. So byna het die Suid-Afrikaners ’n duur prys betaal vir sulke onverskillige gedagtes.

Kapp, wat min ontsag vir die Pakistanse boulers in haar kolfbeurt gehad het, is vereer met die prys as Speler van die Wedstryd. Vir teenstanders was daar ’n vriendelike waarskuwing dat sy nou, op 31-jarige ouderdom, op dreef is as kolwer.

Haar deugde met die bal is lankal reeds bekend – sy is immers tweede op die Internasionale Krieketraad se ranglys vir boulers in eendagkrieket.

“Die laaste jaar is ek meer ernstig oor my kolfwerk. Dit is asof ek nou ’n duideliker plan het wanneer ek gaan kolf,” sê Kapp, wat in 2009 haar buiging vir die nasionale span gemaak het.

“Ek dink ek is besig om my voete te vind en dat hierdie slegs die begin is. Ek tref die bal regtig goed en verstaan my eie spel beter.”

• Die laaste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Pakistan word Dinsdag in Durban beslis.

Meer oor:  Durban  |  Protea-Vrouekrieketspan  |  Marizanne Kapp  |  Pakistan  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.