Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kesh in, maar hoe gemaak met Wiaan?

Terwyl dit ’n uitgemaakte saak blyk te wees dat Keshav Maharaj Woensdag sy terugkeer tot die Protea-11-tal gaan maak, wroeg Suid-Afrika se breintrust nog oor ’n moontlike toetsbuiging vir die veelsydige Wiaan Mulder.

Wiaan Mulder is ’n tameletjie vir die Protea-keurders voordat die span se eerste toets Woensdag in Durban teen Sri Lanka begin. Foto: Gallo Images

Faf du Plessis, Protea-kaptein, het Dinsdag gesê dit sal ’n enorme waagstuk wees om sonder ’n draaier op Kingsmead in Durban te speel – selfs al is hul teenstanders ’n wankelende Sri Lankaanse span.

“Ons sou graag ’n vinnige blad wou sien, maar uit die onlangse geskiedenis hier, weet ons dit gaan ’n stadige blad wees,” het Du Plessis op die vooraand van die eerste van die twee kriekettoetse gesê.

“ ’n Draaier is altyd hier ter sprake.”

Maharaj het nie in die laaste twee toetse teen Pakistan gespeel nie, aangesien die Proteas die snelkwartet van Vernon Philander, Dale Steyn, Kagiso Rabada en Duanne Olivier verkies het.

Een opsie wat oorweeg word, is om al vier dié snellers saam met Maharaj in te span. Dit sal ’n verswakte kolflys van slegs ses erkende kolwers meebring.

Die tweede opsie is om een van die snellers – waarskynlik Olivier of Steyn – weg te laat en met sewe kolwers, drie naatboulers en Maharaj te speel.

Die plan vir die toekoms is om drie snelboulers en vir Kesh in te span, met ’n veelsydige speler (soos Mulder) op nr. 7. Of dít môre al gaan gebeur, is nog nie uitgeklaar nie.
Faf du Plessis

Dan is daar die derde opsie: om vir Mulder op nr. 7 te kies, saam met drie ander snellers en Maharaj.

“Die plan vir die toekoms is om drie snelboulers en vir Kesh in te span, met ’n veelsydige speler (soos Mulder) op nr. 7. Of dít môre al gaan gebeur, is nog nie uitgeklaar nie.”

Volgens die kaptein wil Suid-Afrika vir Maharaj soveel as moontlik in die 11-tal hê, maar teen spanne van die subkontinent op vinnige blaaie, maak dit meer sin om vier snellers te kies. Daarom wil hulle Mulder graag ontwikkel om ’n gereelde lid van die span te word sodat daar altyd vier snelboulers (waarvan Mulder een sal wees) én ’n draaier gekies kan word.

Du Plessis sê hoewel Sri Lanka homself tans nie op ’n goeie plek bevind nie, sal die Proteas die besoekers nie onderskat nie.

“Dit is dalk ’n cliché, maar ons voorbereiding verander nie – of ons nou teen Ierland of Afganistan speel, ons berei teen ’n hoë intensiteit voor.

“Sri Lanka het ook steeds goeie spelers en hulle het ons verlede jaar met 2 – 0 geklop in hul tuistoestande, wat baie seergemaak het. Ons wil dieselfde doen en hulle van die begin af onder druk plaas. As ons hulle onder druk plaas, kan hul breekpunt dalk vinniger kom omdat daar baie afleidings weg van die veld ook is.”

Dinesh Chandimal, Sri Lanka se kaptein, is voor die toer gepos. Die span moes onlangs ook aanslae in die media van voormalige spelers soos Arjuna Ranatunga trotseer, terwyl daar boonop binnegevegte gewoed het.

Dié eilandspan was kanonvoer vir ’n bra halfgebakte Aussie-span in dié spanne se onlangse toetsreeks Doer Onder. Dit voorspel niks goeds vir Sri Lanka teen ’n goeie Suid-Afrikaanse span nie – ongeag of daar nou vier of drie snelboulers speel.

Spanne

Proteas (uit): Faf du Plessis (k), Hashim Amla, Temba Bavuma, Theunis de Bruyn, Quinton de Kock, Dean Elgar, Zubayr Hamza, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Duanne Olivier, Vernon Philander, Kagiso Rabada en Dale Steyn. 

Sri Lanka (uit): Dimuth Karunaratne (k), Niroshan Dickwella, Lahiru Thirimanne, Kaushal Silva, Kusal Mendis, Kusal Perera, Milinda Siriwardana, Dhananjaya De Silva, Oshada Fernando, Angelo Perera, Suranga Lakmal, Kasun Rajitha, Vishwa Fernando, Chamika Karunaratne, Mohamed Shiraz, Lakshan Sandakan en Lasith Embuldeniya.

Begintyd: 10:00 op SS 2, GDN, SABC 3.

Meer oor:  Sri Lanka  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.