Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Keshav se 3-kuns span die kroon

2de toets, St. Lucia, dag 4

Suid-Afrika (1ste beurt) 298

Wes-Indiese Eilande (1ste beurt) 149

SA (2de beurt) 174

Windies (2de beurt) 165

• SA wen met 158 lopies.

Kieran Powell. Jason Holder. Joshua da Silva.

Keshav Maharaj sal nooit in sy lewe daardie name vergeet nie. Dié drie Windies se name sal vir altyd langs sy eie in die geskiedenisboeke van Suid-Afrikaanse krieket pronk.

Maharaj het Maandag die eerste Suid-Afrikaanse draaibalbouler geword om ’n driekuns aan paaltjies in toetskrieket te behaal.

Ná sy drie towerballe, is hy boonop slegs die tweede Suid-Afrikaner wat met ’n toetsdriekuns spog.

Geoff Griffin is die ander een, met ’n driekuns teen Engeland op Lord’s in 1960. Nog ’n interessante stukkie statistiek is dat Maharaj se driekunsbal die 111de potensiële driekunsbal was sedert Griffin se driekuns 61 jaar gelede.

Maharaj, wat die dag reeds in goeie luim begin het toe hy die treffer “Stand by me” met ’n groot glimlag tydens opwarming gesing het, het Suid-Afrika met ’n vyftal aan paaltjies (5/36) gehelp om die reeks met 2-0 te beklink.

Keshav Maharaj het Maandag ’n driekuns aan paaltjies behaal. Foto: Gallo Images

Ná aanvanklike weerstand, het die Windies Maandag stelselmatig verkrummel in hul jaagtog van die teiken van 324.

Kagiso Rabada (3/44) het twee vroeë deurbrake gemaak voordat hy Kyle Mayers met ’n foutbal been voor paaltjie betrap het. Dit was ’n irriterende fout, want Mayers (34) en Powell (51) het Suid-Afrika daarna met ’n vennootskap van 64 frustreer.

Rabada het later wel van Mayers ontslae geraak. Kort daarna het Maharaj sy driekuns behaal deur vir Powell op middebaan, Holder in die slagysterposisie en Da Silva op glip te laat uitvang.

Die vangkans waarmee Wiaan Mulder van Da Silva ontslae geraak het, was skitterend. As deel van Protea-spangees moes Mulder vir die span ’n ronde drankies koop omdat hy vroeër in die toets “keg ball” geroep het net voordat ’n paaltjie geval het. Maharaj kan nou maar gerus vir Mulder terugbetaal of dalk sommer self vir hom ’n Coke Light by die hotel koop om dankie te sê (en hom vergewe vir ’n verbroude vangkans later in die toets!)

Ná die middagete het die Windies se Jermaine Blackwood (25) en Kemar Roach (27) probeer vasskop, maar dit was die heeltyd net ’n kwessie van tyd.

Die Proteas het die ganse reeks oorheers.

Die boulers was strykdeur briljant en élke lid van die aanval het sy deel gedoen.

Ja, daar was tye waar die kolflys effens gewankel het – soos in albei beurte van die tweede toets – maar daar was ook elke keer ’n kolwer of vennootskap wat die skip weer op koers kon kry. In die eerste beurt was dit Dean Elgar en Kyle Verreynne en in die tweede Rassie van der Dussen en Rabada (van alle mense).

TELKAART

Dít is positief. ’n Paar maande gelede was goeie Protea-vennootskappe minder algemeen as beurtkrag.

Quinton de Kock het 237 lopies in die reeks aangeteken – verreweg die meeste. Hy het dit teen ’n gemiddeld van 118.50 gedoen en dit is goed om weer ’n glimlaggende De Kock te sien amok maak.

Ja, die Proteas is nog ver van ’n span wat sy visier kan stel op die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap. Maar ’n skoonskip-toetsreekssege weg van die huis af – vir die eerste keer in vier jaar – is nie te versmaai vir ’n begin nie.

Meer oor:  Keshav Maharaj  |  Wes-Indiese Eilande  |  Krieket  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.