Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KG herwin peil, maar Indië in beheer
Kagiso Rabada laat weet vir Cheteshwar Pujara dat hy sy paaltjie geëis het. Foto: Getty Images

Hy’t gesê dit pla hom nie: “Die media maak ’n groot ophef oor sekere spelers en dit is oukei.”

Maar om die kollig wat vir vier jaar aan hom behoort het aan ander jong snellers soos Jasprit Bumrah en Jofra Archer te moes afstaan, móés eenvoudig vir Kagiso Rabada omgekrap het.

Daarom sou sy kliniese boulwerk Donderdag in Pune op dag een van die tweede toets teen Indië ’n reuse-verligting vir hom gewees het.

Rabada is nie ’n jong man met ’n gebrek aan selfvertroue nie, maar sy ontleding van 3/48 in 18.1 boulbeurte sou hom wel ’n sug van verligting laat slaak het. Dié paaltjies sou opnuut aan hom bevestig: “Ek kán nog, ek ís nog ’n yster.”

Al het Rabada strykdeur gedreig, het Indië die dag steeds in volkome beheer afgesluit. Keshav Maharaj het tydens die eerste toets in Visakhapatnam gesê in Indië is dit omtrent ’n geval van wen die loot, wen die toets.

Donderdagoggend het Virat Kohli eersgenoemde nogmaals gedoen en teen Donderdagaand was sy span op 273/3 in ’n stewige posisie om in die tweede toets reeds ’n reeksoorwinning te beklink.

* Volledige telkaart hier.

Mayank Agarwal vier sy honderdtal. Foto: AP

Dit was te danke aan die aanvangskolwer Mayank Agarwal (108), wat voortgebou het om sy dubbele honderdtal in die eerste toets. Die belowende posisie is ook danksy Cheteshwar Pujara se 58 en Kohli se eie beurt van 63*. Die kaptein sal die beurt Vrydag saam met Ajinkya Rahane (18*) hervat.

Vir Suid-Afrika is sy benarde posisie te wyte aan die onvermoë van sy boulers wie se van nie Rabada is nie om toe te slaan.

Maharaj (0/89 in 29 bbe.) het weer ’n kwartmiljoen boulbeurte afgestuur, maar selde gedreig. Vir dié toets het Faf du Plessis, die Protea-kaptein, besluit om ’n positiewe benadering te volg en vir Anrich Nortjé in Dane Piedt se plek te kies.

Nortjé het met tye blitsige vaart gewys, maar hy kon nie bestendig ’n goeie lengte handhaaf nie.

Hy was duur en het syfers van 0/60 in 13 boulbeurte behaal. Vernon Philander (0/37 in 17 bbe.) was soos altyd ekonomies, maar nie werklik ’n bedreiging vir die Indiese kolwers nie.

Senuran Muthusamy (0/22 in ses bbe.) het sy taak verrig en selfs ’n bal of twee laat draai.

Maar dit was Rabada wat, vir die eerste keer in ses maande, gevaarlik gelyk het.

Kagiso Rabada word deur Aiden Markram en Quinton de Kock geluk gewens nadat hy Cheteshwar Pujara se paaltjie platgetrek het. Foto: Gallo Images

Dié blad, wat wel goed is vir kolfwerk, het die Suid-Afrikaanse naatboulers so ’n bietjie meer gehelp as die eerste toets s’n. Rabada het swaaibeweging gekry en die bal op goeie, dreigende lengtes geplant.

Só het hy verhoed dat Rohit Sharma (14) voortbou op die twee honderdtalle wat hy in die eerste toets geslaan het.

Nadat hy tien boulbeurte in die oggendsessie geboul het, het Du Plessis Rabada weinig gebruik. Dit was tot die misnoeë van die voormalige Protea-kaptein, Graeme Smith, wat kommentaar oor die wedstryd lewer.

Smith het vir die een ná die ander boulbeurt gepleit dat Rabada teruggebring moet word. Die oomblik toe Smith se wens waar word, het Rabada toegeslaan en Pujara uitgekry.

’n Mens kon hom nie sien nie, maar die glimlag op Smith se gesig was sonder twyfel enorm.

Die organiseerders wag waarskynlik nou nog vir die regte Kagiso Rabada om by die Wêreldbeker-toernooi op te daag – ’n toernooi waarin Archer en Bumrah uitgeblink het. Hy erken self hy was “slegs oukei” by die skouspel in Engeland.

Dít, en sy so-so vertoningslys in die subkontinent, was die ideale motivering om amok te maak.

Voor hierdie toets, het hy in vier toetse in Indië nog slegs drie paaltjies platgetrek. In twee toetse in Sri Lanka, kon hy verlede jaar slegs agt slagoffers eis.

Voor hierdie toets, het hy in vier toetse in Indië nog slegs drie paaltjies platgetrek. In twee toetse in Sri Lanka, kon hy verlede jaar slegs agt slagoffers eis.

Deesdae word spelers grootliks beoordeel op hoe hulle weg van die huis af vertoon. Veral in onbekende toestande.

Bumrah het al met oeste van vyf paaltjies in ’n beurt in Australië, Engeland, Suid-Afrika én die Karibiese Eilande gewys hy kan ’n gróte word. Dit terwyl hy nog slegs 12 toetse gespeel het.

Vir Archer lê ’n oorsese toetsvuurdoop nog voor.

Rabada sal in dié toets wil wys die media moenie van hom vergeet wanneer hulle besluit om ’n groot ophef oor die beste jong snelboulers in die wêreld te maak nie.

Meer oor:  Kagiso Rabada  |  Mayank Agarwal  |  Faf Du Plessis  |  Suid-Afrika  |  Indie  |  Krieket  |  Tweede Toets  |  Snelbouler  |  Proteas  |  Subkontinenet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.