Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KG: Media maak groot ophef oor party spelers

Twee jaar gelede was hy die snelboulprins van die krieketwêreld, maar onlangs het ander jong blitse Kagiso Rabada al meer begin oorskadu.

Kagiso Rabada staan die media verlede week in Pretoria te woord. Foto: Gallo Images

By die Wêreldbeker (WB)-kriekettoernooi in Engeland en Wallis was die 24-jarige Rabada ver van sy beste, met slegs 11 paaltjies in agt wedstryde teen ’n bra power gemiddeld van 36.09 lopies per paaltjie.

In vergelyking met twee ander opkomende snelboulers, Jofra Archer van Engeland (20 paaltjies) en Indië se Jasprit Bumrah (18 paaltjies), het Rabada tweederangs gelyk.

Sedertdien het die 24-jarige Archer sy skitterspelpeil na die toetsverhoog oorgedra. Bumrah (25) terroriseer ook toetskolwers met sy vaart en vreemde boulaksie.

Rabada, wie se loopbaan vroeër as sy bogenoemde tydgenote begin het, gee egter nie om dat hy vir eers die kollig aan dié duo moes afstaan nie. Hy weet immers internasionale krieket het ’n eb en vloed.

“Dit is nooit maklik om jou beste spelpeil vol te hou nie. Ek het geleer daar is baie hoogte- en laagtepunte. Ek wil die beste ter wêreld wees, maar almal wil. Jy gaan dus met daardie ouens meeding,” het Rabada voor die Proteas se vertrek na Indië, waar hulle in ’n T20- en toetsreeks gaan speel, gesê.

Hy sê hy is nie te bekommerd nie.

“Ek het agting vir daardie boulers, want hulle is goeie boulers. Die media maak ’n groot ophef oor sekere spelers en dit is oukei. Ek weet in elk geval dat ek goed speel,” sê hy.

“Ek dink Jofra Archer is so ’n natuurlik talentvolle speler, Jasprit Bumrah verrig wondere. Dit kan jou noop om self ’n treetjie na bo te gee.”

Kagiso Rabada het ’n teleurstellende WB-veldtog beleef. Foto: Getty Images

Protea-ondersteuners hoop inderdaad hy gee ’n paar treë in die regte rigting. Die T20-reeks teen Indië begin Sondag en die toetsreeks in Oktober. Dit behoort die ideale kans vir Rabada te wees om sy naam terug in gesprekke te dwing oor wie die beste snelbouler in die wêreld is. Hy het immers ’n paar weke af gehad om die teleurstelling van die WB-toernooi te verwerk.

“Ek is geestelik uitgerus – ek het daardie blaaskans nodig gehad. Nou gaan dit oor hoe ons die volgende paar jaar aanpak,” sê Rabada.

“Ek was nie op my beste by die WB-toernooi nie, ek was net oukei. Dit het nie goed verloop nie en dit was teleurstellend. Sommige van ons gaan nog een of twee kanse kry om die WB te probeer wen, so ons moes baie uit die veldtog leer.

“Ek is teleurgesteld en wanneer jy ’n terugslag beleef, moet jy vasberade wees, maar jy wil nie baie dinge verander nie. Dit gaan daaroor om te sien wat jy verkeerd gedoen het en hier en daar ekstra werk in te sit.”

Rabada het ’n goeie verhouding met die vorige afrigter, Ottis Gibson, gehad. Hy sien nietemin uit om saam met die nuwe afrigters, Enoch Nkwe (hoofafrigter/spandirekteur) en Vincent Barnes (boulafrigter) te werk.

“Ek dink Ottis was goed vir ons, maar nou is ons terug saam met Enoch en Vinny. Ek het al sedert junior vlak saam met Enoch gewerk. Ons ken vir Enoch en weet hy is ’n afrigter van gehalte.”

Meer oor:  T20  |  Toetskrieket  |  Kagiso Rabada  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.