Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KG oor mylpaal: ‘Dis gróót geselskap’

Kagiso Rabada hoort in dieselfde geselskap as Waqar Younis, Dale Steyn, Allan Donald, Malcolm Marshall . . . en sommer al die ander groot snelboulers wat die spel al opgelewer het.

Kagiso Rabada vier sy 200ste toetspaaltjie Donderdag in die eerste toets teen Pakistan in Karatsji. Foto: Pakistanse Krieketraad

Dis nie sommer net ’n mening nie. Die statistieke bewys dit. Rabada het Donderdag die vierde jongste bouler nóg geword om 200 toetspaaltjies plat te trek. Boonop het net Younis en Steyn minder balle in toetskrieket nodig gehad om by daardie mylpaal uit te kom. Geen bouler in die geskiedenis van die spel het 200 paaltjies teen ’n beter treftempo (aflewerings per paaltjie) as die 25-jarige Rabada se 40.8 platgetrek nie. En die lys gaan voort.

“Dis ’n reuse-prestasie om op ’n lys te wees wat sulke name het. Wanneer jy begin speel, dink jy nie jy sal op so ’n lys wees en sulke statistieke hê nie,” het Rabada gesê ná die derde dag se spel van die eerste toets teen Pakistan in Karatsji.

“Ek is baie bly en dit is bevredigend. Dit is ’n groot mylpaal. Nou beur ons voort.”

Sy gemiddeld van 22.96 is die 12de beste nóg van boulers met meer as 200 toetspaaltjies. Steyn is tans net bo hom, met 22.95. Hy het reeds nege oeste van vyf paaltjies in ’n beurt en vier van tien paaltjies in ’n toets op sy kerfstok. Hoe kry hy dit reg om so bestendig te wees?

“Dis harde werk en baie tyd om aan jou nering te bestee. Daar is baie ontleding en skaafwerk, dit is ure en ure se herhaling om te probeer om iets te vervolmaak wat so maklik mag lyk.”

Rabada se tydgenoot Aiden Markram het Donderdag met ’n vasberade beurt van 74 lopies verseker dat die Proteas in die wedloop bly. Die Proteas is steeds op die agtervoet – hulle het ’n voorsprong van 29 lopies, met net ses paaltjies staande – maar is nog nie begrawe nie.

“Sy beurt was ongelooflik belangrik. Sy vennootskap met Rassie (van der Dussen, 64) het ons terug in die wedstryd gekry,” sê Rabada.

“Aiden is ’n ongelooflike speler. Ek ken hom al sedert junior krieket af. Hy werk baie hard aan sy spel en hy het sy stempel vandag afgedruk.

“Hy wil regtig graag ’n impak maak. Hy het ’n paar uitdagings gehad, soos almal van ons, en ons werk is om daardie uitdagings te oorkom.

“Ons is die heeltyd in die kollig en word gekritiseer, maar niemand kritiseer ons meer as onsself nie. Jy moet jou uitdagings by herhaling oorkom.

“Ek is bly hy het ’n paar lopies aangeteken. Ek is seker hy sou graag ’n honderdtal wou hê en sal vies wees vir homself, maar hy het vir ons ’n kans gegee.”

Rabada sê die blad het sy uitdagings – vernaamlik draai en oneweredige wip – maar “het nie te veel duiwels nie, al sal die kolwers ietwat bekommerd wees as hulle instap”.

“Ons glo ons kan nog die wedstryd wen. In die subkontinent kan paaltjies in groepe val. Ons het goed gevaar en nou gaan ons weer getoets word, maar ons is gereed daarvoor. Hopelik kan ons die span in ’n goeie posisie kry sodat ons druk op Pakistan kan plaas in die laaste beurt.”

Meer oor:  Krieket  |  Kagiso Rabada  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.