Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KG, Rassie red Proteas van rooi gesigte

Rassie van der Dussen en Kagiso Rabada het Suid-Afrika Sondag van bloedrooi gesigte gered.

Rassie van der Dussen het Sondag sy sesde toetsvyftigtal in sy tiende wedstryd aangeteken. Foto: Gallo Images

Toe die Proteas die Windies Saterdag vir 149 uitgeboul het – 149 lopies minder as die Suid-Afrikaners se eerstebeurttelling van 298 – sou die meeste mense dink dis dit, wedstryd verby.

Die Windie-boulers het nie onder daardie mense getel nie. Spel het Sondag weens reën amper drie ure laat begin. Kort ná die aanvang, het Suid-Afrika se kolfellende ook begin.

Die span het vroeg op 54/6 gesteier ná paaltjies deur Kyle Mayers (3/24) en Kemar Roach (4/52). Op daardie stadium was Suid-Afrika se voorsprong 203 lopies – nog nie genoeg om heeltemal gemaklik te wees nie, selfs al kon die Windies nog nie een keer in drie probeerslae in die reeks verby 200 skuif nie.

Rabada het hom met die telling op 73/7 by Van der Dussen in die middel aangesluit. Toe was daar ’n groot kans dat Suid-Afrika sy swakste telling nóg in die Windies sou behaal – swakker as die 141 wat hulle in 2001 in Jamaika aangeteken het.

Rabada – van wie daar al lank hoë kolfverwagtinge gekoester word – het daardie vrese met ’n skitterende vennootskap met Van der Dussen besweer.

2de toets, St. Lucia, dag 3

Suid-Afrika (1ste beurt) 298

Wes-Indiese Eilande (1ste beurt) 149

SA (2de beurt) 174

Windies (2de beurt) 15/0

Rabada (40, 48 balle) het sy hoogste toetstelling nog aangeteken en beïndruk met ’n skitterende dryfhou deur die dekke vir vier en ’n reguit dryfhou vir ses. Saam het hy en Van der Dussen 70 lopies om die agtste paaltjie opgestapel en die span tot by die drumpel van ’n voorsprong van 300 lopies gedra.

Nadat Rabada uit is, het Van der Dussen (75*, 142 balle) die span saam met die stert verby daardie kerf gekry en ’n teiken van 324 aan die Windies gestel.

In hul eerste twee kolfbeurte van die toetsreeks, het Suid-Afrika beïndruk met sy vermoë om te verhoed dat die kolflys op kritieke tye ineenstort – ’n probleem wat die span die laaste paar jaar lamgelê het. Sondag was daar wel ’n ineensinking, maar dit was bemoedigend om te sien hoe daar wel vasgeskop is teen ’n totale ineenstorting. Dít dui op vooruitgang.

Die Windies het al sewe keer in hul geskiedenis ’n teiken van meer as 300 suksesvol gejaag, waarvan twee die laaste vier jaar. Trouens, hulle het so onlangs soos Februarie ’n roemryke sege oor Bangladesj in Chattogram behaal toe hulle ’n teiken van 395 suksesvol gejaag het. Daardie dag het Mayers die ondenkbare gedoen en 210* aangeteken om sy span oor die wenstreep te kry.

Dit is dus moontlik. Maar die Windies het in hul vorige drie kolfbeurte in dié reeks altesaam maar 408 lopies aangeteken. Dít, en die gehalte van die Protea-boulwerk, voorspel niks goeds vir die tuisspan nie.

Telkaart.

Meer oor:  Kagiso Rabada  |  Windies  |  Rassie Van Der Dussen  |  Proteas  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.