Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KG se glas halfvol voor Indiese toer

In die geheue van Protea-ondersteuners was Suid-Afrika se vorige kriekettoer na Indië ’n yslike ramp.

Kagiso Rabada vier die paaltjie van Indië se Suresh Raina tydens die eendagreeks in Indië in 2015. Foto: Getty Images

Baie van hulle onthou net die toetsreeks wat Suid-Afrika in 2015 op stowwerige blaaie – waarop die Indiese draaiers balle om hoeke gedraai het – met 3-0 verloor het.

Maar dit is nie al hoe Kagiso Rabada, wat destyds aan die begin van sy loopbaan gestaan het, daardie reeks onthou nie.

“Die vorige toer in Indië was baie suksesvol,” het Rabada onlangs tot groot verbasing gesê toe hy die media voor die span se vertrek na Indië te woord gestaan het.

“Ons het die T20-reeks en die eendagreeks gewen,” het hy verduidelik.

Rabada is reg. Die Proteas het toe die T20-reeks met 2-0 en die eendagreeks met 3-2 gewen.

“Die toetsreeks was ’n bietjie van ’n gemors, maar die blaaie was eenvoudig aaklig,” sê Rabada, wat sy toetsbuiging in die eerste toets van daardie reeks gemaak het.

Hy sê die ganse toetsreeks kon heel anders verloop het as die Proteas in die eerste toets eerste gekolf het. Indië het slegs 201 in sy eerste kolfbeurt aangeteken. Die Proteas het met ’n eerstebeurttelling van 184 geantwoord en die toets eindelik met 108 lopies verloor. Rabada erken nietemin dat die Protea-kolwers se spel teen draaiers veel te wense oorlaat.

Kagiso Rabada en Virat Kohli het ’n meningsverskil tydens die eendagreeks in Indië in 2015. Foto: Getty Images

“Daar is baie praatjies oor hoe om draaierstoestande te benader. Dit is vreemd, want tydens verlede jaar se reeks in Sri Lanka het ons ook kleigetrap. Dit is asof ons verward is,” sê hy. Suid-Afrika het hul reeks in Sri Lanka verlede jaar met 2-0 verloor.

“Dit help wel dat daar nou baie ouens is wat ook in Sri Lanka was en weet wat werk en wat werk nie. Die kolftoestande is baie uitdagend en wanneer dit jou eerste keer daar is, weet jy nie hoe om te speel nie.”

Hy sê die kaptein, Faf du Plessis, is ’n goeie voorbeeld van ’n kolwer wie se planne teen draaiboulwerk agtermekaar is.

“Iemand soos Faf weet wat om te doen, want hy was al baie op die subkontinent. Ander ouens wat gaan, het nou ook ’n idee hoe om daar te speel,” sê Rabada.

Die Indiese span wens die draaier Ravindra Jadeja (met die sonbril) geluk nadat hy die paaltjie van Kagiso Rabada (voor) gekry het tydens die toetsreeks in Indië in 2015. Foto: Getty Images

Enoch Nkwe, die Proteas se waarnemende spandirekteur, het verlede week gesê die span wil die “regte formule” kry om goeie krieket in Indië op te dis.

“Ons het baie hard agter die skerms gewerk om te verseker dat ons ’n duidelike struktuur en mikpunt het,” het hy voor die span se vertrek na Indië gesê.

Die reeks van drie T20-wedstryde begin Sondag in Dharamsala. Die reeks van drie toetse word in Oktober beslis.

Meer oor:  Krieket  |  Indië  |  Kagiso Rabada  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.